Inwoners herstel Peacehaven se trots
Inwoners van Peacehaven het Saterdag moue opgerol en gehelp om skoon te maak.
VEREENIGING. – Bykans 30 inwoners van Peacehaven het Saterdag (30 September 2023) hande met die Vaal Business Cooperation (VBC) gevat om rommel op te tel en Peacehaven se strate weer mooi te maak.
VBC is ‘n nie-winsgewende organisasie wat ten doel het om die Vaaldriehoek met die hulp van plaaslike sakeondernemings op te hef.
Tersia Venter, ‘n gemeenskapsaktivis en inwoner van Peacehaven wat Saterdag gehelp het met die reëlings, sê ‘n klomp mense is gemobiliseer om met die skoonmaakveldtog te help.
“Die inwoners het saam gekom en elkeen het verantwoordelikheid gevat vir die rommel in hul eie strate. Daar is (in elke straat) op ‘n punt begin en dan het ons dit gevat tot reg onder,” vertel sy.
Venter sê: “Ons is trots op ons area en ons wil hom skoon hou.”
Volgens Venter gaan waarskuwingstekens volgende week by parke in die buurt opgerig word om mense te herinner dat rommelstorting nie geduld sal word nie.
“Ons is keelvol vir onwettige rommelstorting. Mense kom van ander areas en gooi hulle rommel hier. Daar is ook baie onderliggende probleme in die buurt wat die groter oorsaak is hiervan, maar ons wil vir ons bure graag wys ons is trots op ons area en ons wil hom graag skoon hou,” vertel sy.



