Local newsNews

Nagevolge van siekte eis apteek-staatmaker Louise

Sy het omgegee vir mense en was altyd reg om te help.

 

VANDERBIJLPARK. – Vir dekades lank was Louise Delport (51) altyd daar vir apteekkliënte wat medisyne kom koop het of vir enigeen wat net ‘n simpatieke oor nodig gehad het. Dié vriendelike en behulpsame vrou is egter ‘n paar weke gelede self platgetrek deur siekte en het uiteindelik aan die nagevolge daarvan gesterf.

Louise was die afgelope 30 jaar ‘n bekende gesig in verskeie apteke soos Sussmans, Medi-link en Medirite in Vanderbijlpark, waar sy as apteekassistent gewerk het. Nadat sy onlangs Covid opgedoen het en reeds begin herstel het, het sy ‘n bloedklont in haar long gekry en haar niere het stelselmatig ingegee. Sy was drie weke in Emfuleni Mediclinic se intensiewe sorgeenheid voordat sy op 15 September ‘n noodlottige hartaanval gehad het.

Louise is op 20 Januarie 1972 in Senekal gebore en het in 1982 saam met haar ouers na Sasolburg verhuis. Sy was sowat 40 jaar ‘n inwoner van die Vaaldriehoek.
“Louise was ‘n spontane mens wat maklik gelag en gesels het. Sy het omgegee vir mense en was altyd reg om te help. Ons sal haar veral onthou vir haar lofprysing. Sy het voluit vir God gelewe en was altyd diensbaar,” sê haar suster, me. Engela Kotzee.

“Sy was baie lief vir haar plante en tuinmaak, en kon in haar vrye tyd ure in die tuin deurbring. Verder het sy gereeld op uitreike gegaan en diens gedoen vir die Here.”
Louise se gedenkdiens is verlede Vrydag by Herfsoord in Vanderbijlpark gehou. Sy word oorleef deur haar seun Justin (17), dogter Rinnika (12), haar moeder en twee susters.

Wyle Louise Delport.
Wyle Louise Delport.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button