‘Ons het nie van julle vergeet nie’
Wanneer bikers en oorlogsveterane saamspan om aan gevalle helde eer te bring, is die resultaat 'n emosioneel belaaide dag met talle hoendervleis oomblikke. Lees meer...
VANDERBIJLPARK. – Stilte. Dis die laaste ding wat mens by ‘n bikerdag verwag. 23 September was anders.
Dit was die Bikers 4 War Heroes dag, spesiaal vir die grensoorlog veterane en die helde wat in daardie oorlog vanaf 1966 gesterf het.

Tydens die parade deur die MOTHS, die kranslegging by die houtkruis, die vlaghysing- en stryking was daar ‘n gedempte atmosfeer. Respek. Trane. Trots. ‘n Laaste saluut.
Die Suid-Afrikaanse weergawe van die bekende Amerikaanse lied, The Ballad of the Green Berets wat deur murg en been sny.
“Fighting soldiers from the sky, fearless men, who jump and die. Men who mean just what they say… These are men, RSA’s best.”

Vroegoggend het die gebrul van motorfietse deur die strate weerklink. ‘n Massarit, onder leiding van Heinie Venter, president van Soldiers of War Sasolburg het van Bedworthpark na die Centurions motorfietsklub se gronde in Shakespearestraat gery.
Nog ‘n groep het van die Blokhuis af gery. DJ Ben het die musiek verskaf. Motorfietsryers het van oral oor gekom.
Wayne Lendrum, president van Valhalla MC het vele oudsoldate se gevoel opgesom. “Ek het my basies in Bethlehem gedoen. Dit was die beste en slegste tyd van my lewe wat ek vir niks sal verruil nie.”
Ceco du Plooy was ‘n tiffie (motorwerktuigkundige) op sy dag. Dit was in 1973. Hy was van die eerstes wat vir ‘n jaar opgeroep is. Onthou nog die keer wat hul grensdiens in Katima Mulilo gedoen het.

“Kersfees het van die Soldoedies vir ons pakkies gebring. Ons het die dag in die Caprivi-strook deurgebring. Drie van die dames het nie lekker gevoel nie en het in die kamp agtergebly saam met ‘n paar wagte. Daardie dag is mortiere op die kamp afgevuur. Hulle is almal oorlede,” vertel hy met oë wat blink.
Dit was ‘n moeilike tyd. 1966 tot vlak in die 1990s. Die wat daar was praat nie sommer daaroor nie. Die wat nie daar was nie, sal nooit verstaan nie.
Op 23 September is elkeen weer onthou. Elke gevalle soldaat, elke beseerde. Elkeen wat met emosionele en liggaamlike letsels teruggekeer het.

Bikers 4 War Heroes was die president van die Christen Motorfiets Assosiasie (CMA) Midvaal, Willie Pieterse se droom. Hy en sy vrou Zelda is albei kapelane wat hul beywer om weermagveterane te help.
Die dag is georganiseer deur CMA Midvaal in samewerking met die nasionale president van Silent Soldiers, Broer Chris van Zyl, die president van Dogs of War Sasolburg, Heinie Venter en die MOTHS.

Spesiale lapelwapens met al die voormalige Suid-Afrikaanse Weermag se kentekens is aan bikers oorhandig wat in die oorlog diens gedoen het.
Sanger Anton Myburgh, self ‘n oorlogsveteraan en lid van die Silent Soldiers, het na die amptelike plegtighede die somber stemming met ‘n paar van sy treffers verlig.

Vir die wat deel was van die grensoorlog. Vir die wat dink ons het vergeet. Ons het nie. Saluut.
