Riekerd het oog op armdruk-titel
‘n Jong Suid-Afrikaner van Meyerton is deesdae een van Australië se beste armdrukkers.
MEYERTON. – ’n Jong Suid-Afrikaner van dié dorp word nou as een van Australië se beste armdrukkers gereken. Dit was egter nie deel van die 20-jarige Riekerd Bornman se planne nie, meer ‘n sameloop van omstandighede toe hy ‘n paar maande gelede sy rugbytokse moes ophang.
Dit is toe dat hy sy vernuf op die armdruktafel beproef het. Riekerd, Hoërskool Dr. Malan se hoofseun van 2021, is na skool na Australië om sy droom om eendag ‘n professionele rugbyspeler te word, te verwesenlik.
Die tenk van ‘n agtsteman, wat sowat 2 meter (1.92) hoog troon en die skaal op 123 kg laat kreun, het hard op die veld en in die gym gewerk om hierdie droom te verwesenlik.
Skaars ‘n paar maande nadat hy vir die Souths Rugby Union Club in Brisbane begin speel het, het Riekerd ‘n sportbesering opgedoen (shin splints). Sy rugbydrome was aan skerwe.

Riekerd en sy jonger broer, Duvan, het voorheen ‘n voorsmakie van armdrukkompetisies gehad toe hulle tydens die Vaal Sports Festival teen onder meer Suid-Afrika se beste armdrukker, Terence Opperman kragte gemeet het.
Riekerd se pa, Duval vertel dat Opperman toe reeds beïndruk was oor die teenstand wat die toe 18-jarige Riekerd hom gebied het.
Dit was per toeval dat armdruk weer oor Riekerd se pad gekom het, vertel ma Mariska. Riekerd het op ‘n dag in ‘n park gestap toe hy op ‘n armdurkkompetisie afgekom het.
Hy het hom nie twee keer laat nooi toe hy gevra is of hy wou deelneem nie.
Daardie dag het hy die een teenstander na die ander plat gedruk.
Volgens Mariska was die klub so beïndruk dat hulle hom aangemoedig het om aan die Meatstock Toowoomba Armdrukkompetisie deel te neem.

Riekerd het toe as ‘n nuweling ingeskryf en as wenner uit die stryd getree.
Dié oorwinning het wenkbroue in die armdrukwêreld laat lig en ervare armdrukkers laat regop sit.
Dit was nie lank voor Ryan Blue Bowen van ArmWrestling Entertainment (AWE) vir Riekerd gebel het en gesê het hy wil hom “voel” nie.
Toe Bowen Riekerd se krag voel, was hy glo verstom.
Hy het vir Riekerd gesê dit gaan ‘n kwessie van twee jaar wees voor hy Australië se nommer een armdrukker is.
Riekerd het saam met Bowen begin oefen en in ‘n kwessie van net ‘n paar maande het hy reeds van Australië se grootste armdruksterre soos Mario Tambakis om die armdruktafel uitoorlê.


