Goose vlieg weer
Altyd lekker as 'n storie 'n gelukkige einde het, soos in die geval van Goose, die gevlekte ooruil. Lees meer.
VANDERBIJLPARK. – Goose, die gevlekte ooruil, is terug by sy maat en in sy gunstelingboom.
Nadat hy meer as ‘n maand deur dr. Kobus Kok by die Driehoek Dierehospitaal behandel is, het die groot dag vir sy vrylating 21 September aangebreek.

Hy was bestem om die Maandag vrygelaat te word, maar omstandighede het dit verhoed. Die Dinsdag het hy almal die skrik op die lyf gejaag deur skielik op te hou eet.
Dr. Kok sê hulle het hom dooie kuikens gevoer en altyd seker gemaak om die magies uit te haal. Hulle vermoed een van die werkers het oor die naweek vergeet en dat die magie hom toe siek gemaak het.

“Ons het hom vir twee dae verwoed gedokter en was baie verlig toe hy Woensdag die muise eet wat ons vir hom gegee het.”
Die groot oomblik het die Donderdagmiddag plaasgevind. Goose is in dieselfde tuin waar hy oorspronklik gevang is vrygelaat.
Dr Kok, veearts assistent Mauritz Malan en twee staatsveeartse, Dr Taylor Rattray en Dr Cornelius Pauw was teenwoordig, saam met huiseienaar Nicky van Vuuren en heelwat van die bure.
“Dit was ‘n emosionele oomblik vir almal toe Goose huis toe gekom het,” het Nicky gesê.
Die uiltjie het eers bietjie onseker in die draagbare hok gesit, maar nadat Mauritz hom uitgehelp het, het hy dadelik gevlieg en almal vanuit sy gunsteling boom beloer.
Nicky, wat destyds gesien het die uiltjie sit vir dae op een struik, sê sy het hom maklik gevang en na die dierehospitaal geneem.

Hier het hul agtergekom dat die uil trichomoniasis opgedoen het. Dis ‘n siekte endemies aan duiwe en word dan aan die uile oorgedra.
Dit veroorsaak verskriklike sere in die uile se bekke wat maak dat hul nie kan eet nie. Goose was die derde gevlekte ooruil wat by die dierehospitaal behandel is.
Dr Kok, wat ‘n sagte plek vir uile het, behandel hul gratis en vernoem hul na karakters uit die Top Gun rolprente. So is Maverick en Iceman al behandel en vrygelaat.
Almal by die dierehospitaal is dit eens dat Goose ‘n sagte plekkie in hul harte het. “Ons is bly hy is nou weer waar hy moet wees, maar ons mis hom,” was hul kommentaar.
Alhoewel daar baie bygelowe oor uile bestaan, hou die gevlekte ooruil nie ‘n bedreiging vir mense of troeteldiere in nie. Hul vang rotte en muise en is dus ‘n helpende snawel vir die mens in plaagbeheer.
Mense moet net onthou om nie rottegif uit te sit nie, want die uile vrek as hul die rotte eet. Daar is produkte op die mark wat nie die sekondêre verbruiker (dus die kat of uil wat die rot eet) sal doodmaak nie.
Indien mense dalk uile sien wat nie gesond lyk nie, veral die wat vir baie lank op een plek sit, kontak dr. Kok by (016) 932 2258. Hy sal verduidelik hoe die uil gevang en ingebring kan word.
