‘Allervreeslike’ gedreun dryf inwoners teen die mure uit
'Dit hou nou al twee dae aan. Die geluid maak mens mal,' sê 'n inwoner

VANDERBIJLPARK. – ‘Wat gaan aan in die nywerheidsgebied? Hier is ‘n onuithoudbare harde dreuning. Ons kan onsself nie hoor dink nie!”
Dit is van die klagtes wat Vaalweekblad laasnag en vanoggend van inwoners uit woongebiede naby die dorp se swaar nywerhede ontvang het.
“Ons is gewoond aan harde geluide van die fabrieke se kant af maar dit was nog nooit so erg nie. Ons sukkel al twee nagte om te slaap,” sê ‘n inwoner.
Die klagtes kom hoofsaaklik uit Vanderbijlpark se CW-gebiede, veral CW5.
“Dit klink soos ‘n skip wat wil dock maar hy kry nie die hawe nie. Ons sit nou die tweede aand met die dreuning in ons ore. Daar is oomblike wat ons dink hallelujah dit hou op… dan begin dit weer van vooraf,” het nog ‘n inwoner vroegoggend laat weet.
Sommige meen die dreuning kom van ArcelorMittal of Air Products se kant af. Vaalweekblad het nie-amptelik verneem Air Products is besig om ‘n klep te vervang en dat dit moontlik die oorsprong van die geluid is.
Ons probeer tans kommentaar van nywerhede in die gebied kry en sal terugvoer gee sodra ons weet wat die ware oorsprong is.
Luister hier na die gedreun… https://www.youtube.com/watch?v=9oxJ74YclwQ
