Ek sê maar net…
RUBRIEK. - Meer as drie dekades later en ek staan weer in Ouhoër se skoolsaal. Baie het verander. Baie het dieselfde gebly, en die heimwee het toegesak. Lees meer...
RUBRIEK. – Ek is ‘n Bijler. Dit beteken ek het my hoërskooljare by die Hoërskool Vanderbijlpark deurgebring. Ouhoër. Vanderbijlhoër. Bijlers.
Die skool is 70 jaar oud. Ek was by die verjaardagvieringe. Nie snaaks vir my om ‘n skool te besoek nie. Dis wat joernaliste van gemeenskapskoerante doen.
Dis net, ek ry nou al jare draaie om die skool. Want, dit was my skool. My matriekjaar lê meer as 30 jaar in die verlede.
Weet nie of dit net ek is nie, maar ek verkies om dinge te onthou soos dit was in my tyd. Intussen het die skool natuurlik dekades voor my bestaan en dekades daarna.
Maar, ek onthou die vyf jaar in die 80s. Mnr. PW Pieterse (sr.) was aan bewind. Die personeel het uit ‘n skare oud-Bijlers bestaan. Ons het nie die atletiek gewen nie, maar ons het wel die interhoër aangebied.
Ouhoër het die pawiljoene gehad om al die skole vir inter te huisves. Die Bijlers was daardie jare gedug op die hokkieveld, op die skietbaan en op die verhoog, onder andere.
Daar staan ek weer in die voorportaal. Ek luister hoe my voormalige Engelse taalonderwyseres vertel hoe opgewonde sy is omdat die skool weer rigting kry na moeilike jare.
Die skool is nou Engels. Verandering is deel van die lewe, ek weet. My verstand verstaan, maar my hart breek. Ek kyk uit oor die ou vierkant waar die groot boom steeds groei.
Soek vergeefs tussen die malende massa op die stoep na my skoolmaters. Die wipstaankuiwe, die tasse skeef oor die rug. Ek verwag enige oomblik gaan mnr. Pieterse agter die podium inskuif. Gaan mnr. Van Rensburg oor sy bril loer, gaan mev. Bosch sê “boere en boerinne.”
Ek wag vir mnr. Van Rooy om met die geskiedenisles te begin en vir mev. Strydom om my van Shakespeare te vertel. Maar, dit gebeur nie.
Die vloerteëls in die saal is nog dieselfde. Die swaar maroen gordyne op die verhoog ook. Selfs die swart vleuelklavier staan op sy plek.
Dis vreemde personeel. Engels. Bloedjonk. Ek sluk aan die knop in my keel. Links van my sit ‘n paar voormalige onderwysers. Almal afgetree.
Waar is die tyd heen? Waar is ons skoolvlag? Wat het van ons skoollied geword? Die ingang na die saal spel Vanderbijlpark High School. Die wapen bokant die verhoog lees steeds Altyd die Hoogste.
Dan vang die bruin borde teen die muur my oog. Aan die een kant van die saal die voormalige hoofseuns- en dogters se name, aan die ander kant die erekleure rol. My naam staan nog daar.
Die een bord se name hou op in 1997, die ander in 1995. Die einde van die een hoofstuk. Die begin van ‘n ander.
My Bijlerhart breek in ‘n duisend stukke, maar my joernaliskleed sit stewig. “Congratulations and good luck, sir” groet ek die hoof.
Ek ry weg van die nuwe skool, maar my herinneringe aan my vyf jaar as Bijler sal altyd bly.
