Charlotte’s web in lewende lywe
In 'n wildreservaat het mens die neiging om vir die groot diere te soek, maar soms gebeur die mooiste goed sommer reg voor jou.
VAALPARK – Charlotte en Hans Bresser het die naweek in Marlothpark gekuier. Terwyl hul Saterdagaand op die stoep ontspan het, het hulle opgemerk hoe ʼn spinnekop ʼn web geweef het.
Dit was ʼn meesterstuk en hulle het lank gekyk hoe die kunswerk vorm aanneem. Charlotte het Sondag op Facebook gesê: “Die stoepdeur is nie laasnag toegemaak nie – dit sou die web breek en die arbeider moes darem eers met ‘ n kossie beloon word.”

Natuurlik het sy gaan Google en uitgevind dat die spinnekop ʼn Nocturnal Orb Weaver is. Hulle weef in die donker, vang hul prooi en eet voor sonop die web op sodat voëls hulle nie eet nie.
Self is sy nie ʼn groot aanhanger van spinnekoppe nie, maar sy reken dat wanneer ‘n mens by jou persepsie oor spinnekoppe kan verbykom, hulle fassinerend is.
Sy het ook bygevoeg: “Dit het my jare geneem en ek wil steeds nie een as troeteldier aanhou nie!”
