Emfuleni kan nie tien nuwe personeellede bekostig
Daar is eenvoudig nie geld nie.
EMFULENI. – Die VF Plus het tydens ʼn raadsitting van die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) gewaarsku dat die munisipaliteit se salarisbegroting nie die tydelike aanstelling van tien wetstoepassers kan bekostig nie.
Die spesiale loodsprojek wat ses maande sal duur, is daarop gemik om tydelike wetstoepassers aan te stel wat moet sorg dat munisipale bywette uitgevoer word.
Die projek sal die raad R2,8 miljoen kos wat ʼn gepantserde voertuig, vuurwapens, ammunisie, uniforms en ʼn salaris van R23 000 per maand insluit.
Volgens Gerda Senekal, van die VF Plus van die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit, kou die bankrot Emfuleni se werknemers reeds elke maand naels omdat hul salarisse die afgelope tien maande nie gereeld betaal word nie.
Daarbenewens het Randwater die munisipaliteit se bankrekening gevries weens wanbetaling.
Senekal sê: “Krediteure word eers 900 dae nadat werk afgehandel is, betaal weens die munisipaliteit se benarde finansiële situasie. “
“Geen stukkende waterpype en kragkabels kan reggemaak word nie omdat daar nie voertuie of geld vir diesel is om klagtes te hanteer nie. Vullisverwydering vind ook nie gereeld plaas nie,” sê sy.
Volgens Senekal is daar in die 2022/23-finansiële jaar R884 miljoen vir kragverbruik ontvang en R712 miljoen vir waterverbruik.
Die inkomste word volgens haar nie aangewend om uitstaande skuld aan Eskom en Randwater te betaal nie, maar vir ander doeleindes soos salarisse.
Die munisipaliteit skuld boonop vir Eskom R6,2 miljard en Randwater R1,8 miljard.
“Die VF Plus is nie gekant teen die projek nie, maar weens die wanbestuur van die Emfuleni-munisipaliteit is dit onbekostigbaar,” sê Senekal.
