Pa en verloofde verdrink tydens seevakansie
Vakansie in Kwazulu/Natal eindig tragies vir Sasolburgse gesin
Die gemeenskap van Sasolburg is vanoggend geruk deur die nuus dat ‘n bekende gemeenskapsleier van die dorp, mnr. Johann Griessel (56), gistermiddag in die see verdrink het. Sy dogter Jenney se verloofde, Colin Schreuder, het ook verdrink toe hy probeer het om mnr. Griessel en Jenney uit ‘n seestroom te red. Die voorval het naby uMzumbe Beach aan die Natalse Suidkus plaasgevind, waar die gesin vakansie gehou het.
Vaalweekblad verneem dat mnr. Griessel en Jenney (26) gistermiddag (Dinsdag, 3 Oktober) in die see geswem het toe Jenney deur ‘n stroom meegesleur is. Sy het na haar pa geroep, maar hy is ook dieper deur die stroom ingetrek. Colin het inderhaas ingegaan om hulle te probeer help. Jenney kon uitkom maar die twee mans is nog verder ingetrek en het verdrink.
Mnr. Griessel was ‘n stigterslid en voorsitter van Sasolburg se Gemeenskapspolisiëringsforum. ‘n Woordvoerder van CPF Sasolburg sê hy het die span patrolleerders vir meer as 12 jaar gelei en ‘n groot rol gespeel om misdaad in die dorp te help bekamp.
“Hy was welbekend in die gemeenskap van Sasolburg en het nooit weggeskram om iemand te help of by te staan nie. Die afsterwe van Johann en Colin word diep betreur deur sy vrou, Charissa Griessel, sy kinders, kleinkinders, die families van albei mans, die CPF Sasolburg Patrolleerders, vriende en die gemeenskap,” sê die woordvoerder.
* Die oorledenes se gesinne is nog stukkend na gister se gebeure. Vaalweekblad sal eers later met die naasbestaandes kan praat. ‘n Vollediger berig met meer feite sal in Vrydag se uitgawe van Vaalweekblad gepubliseer word.


