VANDERBIJLPARK. – Dis een ding om ‘n streekliga te wen, maar dis in ‘n heel ander klas om die liga te wen met ‘n eerste deelname.
Dis presies wat Laerskool Kollegepark se o.13 seuns jukskei-span reggekry het. Die span van vyf is onlangs as die Noordvaal kampioene gekroon.
Die kompetisie het in Pretoria plaasgevind teen spanne wat al vyf jaar en meer jukskei speel.
Kollegepark se jukskei-kampioene het ‘n paar maande gelede nie eens geweet hoe om ‘n skei vas te hou nie, wat nog van ‘n pot speel.
Mandré Grobler en Adriaan Wessels is albei in graad 6 en sê hulle het gereageer op ‘n uitnodiging om aan jukskei-proewe te gaan deelneem, gedurende skooltyd natuurlik.
“Ons het gereken as ons nie daarvan hou nie, dan kan ons dit maar net weer los,” beduie die twee.
Die gogga het egter gebyt en na net sewe weke van oefen was hul reg om gesoute jukskei-spelers ore aan te sit.
Die res van die span bestaan uit Heinrich du Plessis (gr. 5), Macie Mackay (gr. 3) en Nathan Engelbrecht (gr. 5). Heinrich se pa, Leon du Plessis is die afrigter en
Heinrich is die een met die jukskei agtergrond. Hy het dan ook onder die top vyf spelers van die toernooi geëindig. Die span oefen nou vir die Suid-Afrikaanse kampioenskappe wat in Oktober in Kroonstad gaan plaasvind.
“Ons eerste toernooi was onder ons skool se naam, maar by die SA’s neem ons vir Sedibeng deel,” het Mandrê vertel.
Die seuns is opgewonde oor die toernooi wat ‘n week gaan duur en sien baie uit na die avontuur.
Laerskool Kollegepark se jukskei dogterspan het in hul eerste toernooi sewende geëindig. Die seuns het gesê naas hul ander sport gaan hul beslis op hul nuutgevonde jukskei-talente voortbou.
