Talent Africa Finaal by ERT
Vaaldriehoekers kan trots wees op die Etienne Rousseau Teater wat al hoe meer groot name en kompetisies trek. Lees meer...
SASOLBURG. – Dit is ‘n woelige week by die Etienne Rousseau Teater (ERT) want Talent Africa se nasionale kampioenskappe vind vir die eerste keer in die Vaaldriehoek plaas.
Aan die stuur van sake is Nicola Ashcroft en haar ma, die stigter van Talent Africa, Melanie Ashcroft.

“Ons luister altyd na wat ons deelnemers wil hê. Hul grootste begeerte is om in ‘n teater op te tree. Wel, ons Vaal verteenwoordigers, Leona Fourie en Fanie Mbalo, het vir ons gesê van die ERT, en ons is baie beïndruk,” het Nicola gesê.
“Ons sal dit graag elke jaar hier wil hou,” het Melanie bygevoeg. Met 3 568 deelnemers het die organiseerders hul hande volgehad. Die jongste deelnemer die jaar is 3 jaar oud en die oudste 71 jaar.
Die verrigtinge het 28 September afgeskop en duur tot 8 Oktober. Sondag is die groot dag wanneer die juniors en seniors hul uitslae en medaljes ontvang.
Om 15:00 sal die bestes van die bestes hul talente in die Talent Africa Showcase vertoon. Die talentkompetisie sluit alles in – van modelwerk tot alle vorme van dans, sang en instrumentale musikante.
Om vir die nasionale kompetisie te kwalifiseer moet deelnemers ten minste ‘n hoë silwer (75%+) in die streekkompetisies verdien.
Groot pryse is op die spel en ‘n kans om in die SA span opgeneem te word wat in New York gaan meeding.
Vyf gekwalifiseerde beoordelaars wat ook in die uitvoerende kunste was of is, het die moeilike taak om die room van die oes uit te kies.
“Dis belangrik dat ons beoordelaars en al ons personeel ondervinding in die uitvoerende kunste het, dan verstaan hul waardeur elke deelnemer gaan. Ons is soos ‘n groot familie en dra elke deelnemer se belange op die hart,” sê Nicola.
Die publiek is welkom om tot Sondag ‘n draai by die teater te maak. Daar is elke dag verskeie deelnemers op die verhoog.
Kostes beloop R80 per persoon en R50 vir pensioenarisse en kinders onder 12. Kaartjies vir Sondagmiddag se Showcase is ook by die deure beskikbaar teen R150 per persoon.
