Local newsNews

Oudkollega Anne met deernis onthou

'n Vrou met 'n warm hart wat selfs op haar sterfbed nog intens omgegee het vir ander.

 

“Ons geliefde Anne het rustig in haar slaap heengegaan, omring deur haar geliefdes.”
Dié boodskappie op sosiale media oor mev. Anne Decloedt (73) het verlede week die einde van ‘n merkwaardige vrou se lewe aangekondig. Hoewel Anne, voormalige redaksiesekretaresse van Vaalweekblad en Ster, dwarsdeur haar lewe verkies het om haar werk stilweg in die agtergrond te doen, laat sy onmiskenbare spore agter in die harte van almal wat haar geken het.

As kind wat hoofsaaklik in Mpumalanga grootgeword het, was Anne van jongs-af kreatief en kunssinnig. Sy het na skool verder in grafiese kuns studeer en as toppresteerder van haar klas geblom. Gedurende die 1980s het sy by MooiVaal Media se grafiese afdeling aangesluit, maar danksy haar veelsydigheid is haar talente ook gereeld in die redaksie- en adminafdeling ingespan.

Met haar rustige, sjarmante persoonlikheid (en haar bekende lekker koppies tee) kon sy die moeilikste besoeker tem. Ondanks haar skraal postuur het sy by geleentheid selfs as buffer tussenbeide getree toe ‘n omgekrapte besoeker die redakteur met die vuis wou bydam!
Na sowat 20 jaar by MooiVaal Media moes kollegas haar groet toe sy saam met haar gesin na die buiteland verhuis het. Sy het deur die jare onder andere in België en Amerika gewoon voordat sy na Suid-Afrika teruggekeer het. Sy het 18 maande gelede in Oranjezicht, ‘n voorstad van Kaapstad, gaan aftree, maar kort daarna die slegte nuus gekry dat sy kanker het.

Volgens haar middelste seun, prof. Eric Decloedt, ‘n spesialis verbonde aan die Univesiteit van Stellenbosch en die Tygerberg Hospitaal, het sy ten spyte van haar kankerdiagnose nooit gekla of haarself bejammer nie. Sy het eerder geestelike leiding gesoek om te midde van haar siekte en pyn steeds te groei en diensbaar te bly. Sy was tot aan die einde die liefdevole, waardige en verfynde dame wat sy altyd was. ‘n Vrou met ‘n warm hart wat selfs op haar sterfbed nog intens omgegee het vir ander.
Sy word buiten Eric ook oorleef deur haar seuns André, ‘n Gautengse advokaat, en Hugo, ‘n sagteware-ingenieur in Minnesota, Amerika, haar skoonkinders en kleinkinders.
Wyle Anne is Vrydag met ‘n gevoelvolle gedenkdiens in die Holy Trinity Church Gardens in Oranjezicht gegroet.

“Ons sal haar onthou by die aanskouing van ‘n pragtige sonsopkoms, die kleur van blomme, en in spesiale oomblikke van liefde en dankbaarheid,” het haar seun Eric in sy afskeidsboodskap gesê.

Wyle Anne Decloedt.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button