Local newsNewsNews

Ag nee, sies man!

Daar is groot probleme by die Rietspruit Watersuiweringswerke en daar is nie lig in die nabye toekoms nie.

VANDERBIJLPARK. – Inwoners van Mullerstuine kleinhoewes rondom die Rietspruit Watersuiweringsaanleg kan die stank en rook nie meer verdra nie.

Meer as drie maande gelede het ‘n veldbrand buite die aanleg ontstaan wat na een van die “lagoons” met gedroogde riool versprei het.

Die brand veroorsaak digte rookwolke, veral in die oggende en aande. Draai die wind, dan kry die inwoners byna nie asem nie.

Dis hoe dit in die oggende en aande in die omgewing lyk. Foto: verskaf

Jeremy Butt sê klagtes val op dowe ore. “My vrou hoes aanmekaar. Van die bure is ook siek. Ons kan nie so aangaan nie.”

Op die R553 stroom riool langs die pad. Die stank oorweldig. Plek-plek lyk dit soos moerasse. Volgens die inwoners word dit ook nie aangespreek nie.

Die inwoners het nie meer raad nie. Die werkers by die aanleg sit ook in sak en as.

Die aanleg se toesighouer van Metsi-aLekoa, Thembisa Jali, sê ‘n groot gedeelte van die aanleg is al drie jaar sonder elektrisiteit.

Die kragopwekker wat moes help tydens beurtkrag, is al maande buite werking. Met die brand is hy al moedeloos.

“Daar is mense wat dink ons het die brand begin. Ons het nie. Dis onwettig om riool te verbrand. Dit was ‘n brand wat van buite af gekom het. Ons kry dit nie geblus nie,” vertel hy.

Die brandweer was al daar, maar hul kan die brand net bolangs blus. Dit bly smeul van onder af. Sodra die wind opsteek, vat alles weer vlam.

Dit blyk dat die brand by verre nie die aanleg se enigste probleem is nie. Daar is nie toerusting nie. Daar is nie elektrisiteit nie.

Die stink stroom langs die R553. Foto: Gerda Bruinette

Die riool wat so vrylik langs die pad ‘n stink stroom maak, kom van ‘n pypleiding af wat hoër op gebreek het. Dit moet vervang word.

Jali sê hy rapporteer die probleme oor en oor aan sy bestuurder, wat dit dan weer verder rapporteer, maar oplossings word nie gevind nie.

Tenders is uit om die substasie op die aanleg te herstel. Eers is kabels gesteel en toe die kabels vervang is, het die substasie ontplof. Nou word daar gewag.

Intussen leef inwoners en die aanleg se werkers elke dag in onuithoubare toestande.

“Hoe kan jy jou werk doen as jy nie elektrisiteit het nie? Nie toerusting het nie? Hulle het ons kantoorgebou opgeknap. Dis nice, maar nie ‘n prioriteit nie. Die aanleg moet werk,” sê Jali.

Onder die Seksie 63 Intervensie is Randwater veronderstel om die herstelwerk en instandhouding te doen, maar dit word nie gedoen nie. Vaalweekblad se navraag oor die situasie aan Rand Water is nie beantwoord nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button