Local newsNews

Pa Hennie sterf presies ‘n jaar na sy vrou

Die begrafnisdiens word Vrydag (13 Oktober) om 14:00 by die NG Gemeente Vanderbijlpark-Wes gehou

 

VANDERBIJLPARK. – Op 8 Oktober verlede jaar moes die naasbestaandes van mev. Antoinetta (Vos) Müller hartseer van haar afskeid neem toe sy aan bloed- en limfkanker gesterf het.
Verlede Sondag, 8 Oktober 2023, was die familie wéér langs ‘n sterfbed: Hul pa en oupa, mnr. Hendrick Jakobus (Hennie) Müller, is presies ‘n jaar na sy vrou op dieselfde datum oorlede.
Volgens die Müllers se dogter, mev. Esna Oliver, het haar pa ‘n geruime tyd probleme met vog op sy longe gehad en het uiteindelik aan hartversaking beswyk. Hy het by Ebenhaezer-tehuis in Vanderbijlpark, waar hy ‘n inwoner was, gesterf.
Mnr. Müller is op 19 Junie 1950 in Observatory gebore en het aan die Tegniese Skool Oudemolen skoolgegaan voordat hy sy matriek deur Lyceum College behaal het. Hy het onder andere vir die Gevangenisdiens in Simonstad en die verkeersafdeling in Bloemfontein gewerk voordat die egpaar hulle in Vanderbijlpark kom vestig het.
“Ons sal ons pa onthou as ‘n baie hulpvaardige en mededeelsame soort mens. Hy het omgegee vir ander en het goed na sy gesin omgesien. Hy was ‘n liefdevolle mens met ‘n genotvolle droë humorsin en het niks van rusie gehou nie. Hy het dit altyd probeer vermy,” sê Esna. “Hy was baie lief vir lekker eet en was ook erg oor sport.”
Mnr. Müller word buiten Esna oorleef deur twee seuns, Jacques en Armand, sy skoonkinders, drie kleinkiners, Mia, Ian en Tiaan, en een agterkleinkind Migail.
Die begrafnisdiens word Vrydag (13 Oktober) om 14:00 by die NG Gemeente Vanderbijlpark-Wes gehou. Daar sal Vrydag tussen 12:00 en 13:00 ‘n besigtiging by Avbob wees.

Wyle mnr. Hennie Müller saam met sy suster en swaer.
Wyle mnr. Hennie Müller saam met ‘n paar van sy jong familielede.
Wyle mnr. Hennie en mev. Antoinetta (Vos) Müller, wat presies ‘n jaar uitmekaar gesterf het.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button