Botsing eis ‘n legende van die Vaal
"Ek het jou lief. Sien jou nóú," was sy laaste woorde aan Leanne.
VANDERBIJLPARK. – ‘n Sagmoedige, rowwe diamant. ‘n Vriend duisend. ‘n Kleurryke legende van die Vaaldriehoek.
Dit is hoe vriende en familie Renier Stols (33), wat Saterdag (30 September) in ‘n padongeluk gesterf het, beskryf.
Renier was die aand omstreeks 18:00 met sy motorfiets op pad na sy huis in Vanderbijlpark toe hy op die Barrage-pad in ‘n botsing betrokke was. Hy het op die toneel by die Makro-kruising beswyk.
Hy was bekend vir sy fris bo-arms en tatoeëermerke wat hom dalk intimiderend kon laat voorkom, maar volgens een van sy motorfietsmaats was hy in werklikheid “so sag soos ‘n lammetjie”.
Neem ‘n mens Renier se veelbewoë kinderjare en die suksesse wat hy later bereik het in ag, kan hy ongetwyfeld as legendaries bestempel word. Hy is op 17 November 1989 in Vryburg gebore en het na ‘n paar omswerwinge as jong seun saam met sy ma en stiefpa na Meyerton verhuis.
“Weens omstandighede moes hy op 15 sy ouerhuis verlaat. Hy het by maats gewoon en homself deur hoërskool gekry deur in die middae sakkies by die plaaslike Spar te pak en saans tot 10 uur by Spur te werk. So het hy genoeg geld vir sy skoolfonds by Hoërskool Dr. Malan ingesamel. Hy was uiteindelik onderhoofseun van sy skool en het vir die Valke rugby gespeel,” sê sy vrou, Leanne.
‘n Nigeriër, ene Tony, het Renier in ‘n stadium onder sy vlerk geneem, huisvesting aan hom gegee en waardevolle lewenswysheid by hom aangekweek, sê sy.
“Ek is bitter trots op die man wat Renier geword het. Hy het nie die maklikste kinderlewe gehad nie en tog kon hy uiteindelik soveel sukses as mens en as sakeman behaal.”
Hy was die eienaar van die baie suksesvolle onderneming Vision Pools, wat die afgelope jare bekend geword het vir hoëgehalte diens met die bou van swembaddens, visdamme, lapas en veel meer.
“Onder sy harde dop het hy ‘n baie sagte hart gehad en uit sy pad gegaan om mense te help. Ek het hom soms grappenderwys ‘Doctor Phil’ genoem omdat vriende altyd sy raad kom vra het oor hul persoonlike probleme. Hoewel hy mal was oor sy maats, was hy eintlik ‘n skamerige eenkantmens wat maklik gebloos het. In sy jong dae kon hy hard kuier maar as volwassene was hy die beste man en pa waarvoor mens kon vra – ‘n ware familieman wat graag tyd saam met sy gesin deurgebring het. Hy het ons dogtertjie, sy seuns en vir my op die hande gedra en sou enigiets vir ons doen,” sê Leanne.
Hy het haar nog die Saterdagmiddag om 17:21 gebel om te sê hy is op pad huis toe nadat hy ‘n Graad 12-leerling by ‘n matriekafskeid besorg het. “Ek het jou lief. Sien jou nóú,” was sy laaste woorde aan Leanne. Skaars ‘n halfuur later is sy lewe kortgeknip.
Buiten Leanne word Renier oorleef deur hul kleuterdogtertjie Re-anne, en twee seuns uit ‘n vorige huwelik, Zade en Dayyaan. Hy het in Maart 2018 ‘n dogtertjie uit ‘n vorige verhouding, Reanei (16 maande), aan die dood afgestaan toe sy en haar ma in ‘n ongeluk in Vereeniging betrokke was.
Renier se gedenkdiens is Donderdag, 5 Oktober, in ‘n stampvol Kompas-gemeente in Vanderbijlpark gehou.

Die laaste foto wat van Renier en Leanne saam geneem is











