Local newsNewsNews

Geduld, respek en baie genade

Die Viljoens van Sasolburg het onlangs 'n besonderse huweliksherdenking gevier. Lees meer.

SASOLBURG. – Nick en Louisa Viljoen “Wiesa” het 14 September hul 60ste huweliksherdenking gevier.

Die egpaar sê die geheim vir hul lang huwelik is geduld, respek vir mekaar en baie genade en krag van Bo.

“Ons het deur baie donker wolke gegaan en ek het al gevoel om ‘n slap vis te vat en hom dood te slaan,” lag Louisa. Nick skud net sy kop vir sy vrou en glimlag.

Die twee verstaan mekaar goed na ses dekades saam. Ken mekaar ook al van skooldae af. Louisa was saam met Nick se jonger broer op skool in Henneman.

“Ek dink hy het ‘n vrou vir sy ouboet gesoek,” beduie sy en lag weer. “Maar my pa was baie kwaai, ons het eers nadat ek uit die skool is begin uitgaan.”

“Haar pa was ongemaklik,” sug Nick wat darem erken hy was uiteindelik een van sy skoonpa se gunstelinge.

Die egpaar het vir 30 jaar in Kragbron gebly en het na Nick se aftrede 30 jaar gelede Sasolburg toe verhuis.

Tot so ‘n paar jaar gelede het Nick nog saam met sy een seun met varke geboer en was hulle ook ywerige jukskeispelers.

Louisa sê ‘n huisvrou kan nooit aftree nie, maar behalwe vir huiswerk brei sy steeds, terwyl Nick ‘n blokraai-fundi is.

“Ek het nog nie eens ‘n tydskrif oopgemaak nie, dan het hy al die blokraaie ingevul,” beduie sy. Die twee orrels in die sitkamer getuig van Louisa se liefde vir musiek.

Sy speel op gehoor en geniet dit om die ou orrel lewe te gee. Waar Nick rustig kan sit en TV kyk, is Louisa die besige bytjie.

“Ek kan nie net stilsit nie. My hande moet altyd besig bly,” vertel sy. Tans bly die egpaar in ‘n pragtig omskepte houthuis op hul een seun se erf.

Hul deel die huis met Lady. Dié is ‘n vyfjarige hondjie wat dit geniet om saam met Nick televisie te kyk. Programme met diere is haar gunsteling en dis duidelik dat sy die huis regeer.

Die egpaar is gelukkig dat hul drie seuns en dogter almal in Suid-Afrika bly. “Ons het tien kleinkinders en vyf agterkleinkinders,” vertel hul trots.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button