Mans se stryery eindig in mes-moord
‘n Stryery in Vereeniging het tot die dood van ‘n man gelei.
*Die storie het eerste in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad (6-12 Oktober 2023) verskyn. Koop ons koerant op Vrydae vir al die jongste nuus.
VEREENIGING. – ‘n Werknemer van ‘n plaaslike sekuriteitsmaatskappy staan tereg vir die moord op ’n 50-jarige man nadat hy hom Dinsdagaand, 3 Oktober na bewering herhaaldelik met ‘n skerp voorwerp gesteek het.
Die voorval het in die middestad plaasgevind.
Roger Dingle, ‘n werknemer van ‘n plaaslike sekuriteitsmaatskappy, het homself dieselfde aand aan die Vereeniging-polisie oorgegee na die aanval wat Jan Adriaan “Attie” Venter (50) se lewe geëis het.

Venter was ‘n werknemer van Arthur Pallock Paneelkloppers in De Deur.
Die mesaanval het omstreeks 17:45 naby die hoek van Edwardstraat en Stanleylaan gebeur.
Venter se saamleefmaat, Elsie Katarina Taylor (53), sê hy was met sy fiets op pad huis toe, toe hy en Dingle strygekry het.


Dingle is aanvanklik vir poging tot moord in hegtenis geneem, maar nadat Venter aan sy wonde beswyk het is die klag verander na moord.
Kapt. Fikile Funda, ‘n woorvoerder vir die polisie in Vereeniging, het die voorval bevestig.
“Ons kan bevestig dat die oorledene op die betrokke aand verskeie kere in die nek, kop, gesig en rug deur die verdagte gesteek is. Die slagoffer is na die Sebokeng Hospitaal geneem. Die verdagte is vir poging tot moord in hegtenis geneem,” het hy gesê.
Dingle het reeds in die landdroshof verskyn.
Vaalweekblad verneem dat albei mans voorheen saam in ‘n losieshuis in Senator Markslaan in Vereeniging gebly het waar hulle mekaar ontmoet het.
Dit is na bewering nie die eerste keer wat hulle met mekaar strygekry het nie.
Daar is sprake dat die partye interdikte teen mekaar bekom het. Vaalweekblad kon teen druktyd nie laasgenoemde bewerings bevestig nie.


