Beweerde reeksmoorde: Nóg ‘n slagoffer se naam bekend
Lukas is die eerste slagoffer wat in 'n gebou en nie op straat aangeval is nie.
Die berig het eerste in Vaalweekblad van 6 Oktober 2023 verskyn.
VANDERBIJLPARK. – Inwoners van die CW2-woongebied is opnuut op hol oor ‘n moontlike reeksmoordenaar in hul omgewing nadat nóg ‘n moord aan die lig gekom het.
‘n Wolk van vrees hang sedert einde Julie oor die CW-gebiede nadat minstens ses voetgangers in ‘n radius van 2 km van mekaar vermoor en verskeie ander ernstig aangerand is.
Onder die oorledenes wie se name aan Vaalweekblad bekend is, was me. Beaula Ellis (sterf 25 Julie), mnr. Patrick Smit (sterf 30 Julie) en me. Skye Fagyas (sterf 18 Augustus). Al drie is laatnag in afsonderlike voorvalle aangerand terwyl hulle alleen in die CW-gebied gestap het. Beaula en Patrick het op straat aan hul beserings gesterf en Skye is nege dae na haar aanranding in die hospitaal oorlede.
Dit blyk nou dat nóg ‘n jong man, mnr. Lukas Pretorius, omstreeks 19:00 op 29 Julie vermoor is. Wat sy moord anders maak, is dat hy die enigste slagoffer was wat nie op straat aangeval is nie maar in ‘n woonstelgebou in CW2 se Becquerelstraat-omgewing. Net soos die vermoorde Patrick het Lukas glo kenmerkende beserings aan sy kop- en gesig gehad, met die verskil dat albei sy bene ook gebreek was. Sy familie wou tot dusver nie met die media oor die gebeure praat nie.
Vaalweekblad het amptelike bevestiging oor Lukas se moord by die SAPD se skakelafdeling aangevra, maar tot dusver geen terugvoer ontvang nie. Polisie-woordvoerder kapt. Fikile Funda het wel in Augustus na die eerste vlaag moorde aan Vaalweekblad bevestig dat die voorvalle intensief ondersoek word, maar bygevoeg dat daar nog geen aanduiding was dat die moorde met mekaar verband hou nie. In opvolgende navrae in September het kapt. Funda aan Vaalweekblad-medewerker Craig Kotze gesê die polisie gaan nie stap-vir-stap aan die media verslag doen oor hul misdaadondersoeke in die CW-gebiede nie.

Bo: Drie van die vermoordes: Van links is Beaula Ellis, Skye Fagyas en Patrick Smit.
Inwoners van verskillende rasse het op 25 Augustus ‘n opmars in CW2 se strate gehou en ‘n memorandum aan die polisie oorhandig met ‘n dringende versoek om die moorde, aanrandings, dwelmhandel en prostitusie in die gebied te ondersoek en vas te vat. “Niks het intussen verander nie. Dwelmhandel vind steeds openlik op straat plaas. Die ‘drug lords’ dwing ook jong mans en meisies, swart sowel as wit, om as seksslawe te werk,” sê ‘n vrou van Lesotho wat al agt jaar in CW2 woon. “Dit gaan sleg in ons buurt. Hier gebeur skokkende dinge. Ons sien baie hartseer,” sê sy.
Drie ouers van kinders tussen die ouderdom van 18 en 21 het Vaalweekblad intussen gekontak in die hoop dat die koerant hulle kan help om met hul vermiste kinders wat vermoedelik iewers in die CW-gebiede is, kontak te maak.
“My seun is Vanderbijlpark toe gelok met die belofte van werk, maar ons vermoed hy is in daardie dwelmnes vasgevang. Ons het die afgelope maand net een keer van hom gehoor toe hy blyplek by iemand in die CW-area gekry het. Sedertdien antwoord hy nie sy foon nie en lees nie ons boodskappe nie. Dit is heeltemal buite sy karakter. Die gerugte oor moorde in die gebied maak ons angsbevange. Ons bekommer ons dood,” sê ‘n ma van Klerksdorp.
* Enigiemand met inligting oor die ongerymdhede in die CW-areas kan dit by takbevelvoerder kapt. Mahlaha by 082 335 6785, die polisiestasie by (016) 910 9046 of Crime Stop by 0860 10111 aanmeld.

