Local newsNewsNews

Jacké dans in die reën

Sy is altyd doenig met die een of ander groot projek, andersins is sy op diens as medic by skolesport of bikerdae. Maak nader kennis met Jacké Labuschagne Jordaan.

MEYERTON. – “Vra vir Jacké” is die standaard antwoord by enige dag waar Jacké Labuschagne Jordaan betrokke is. “Waar is Jacke?”, is altyd die opvolg.

Die vrou ken nie van stilstaan nie. Altyd op ‘n drafstappie om probleme uit te sorteer en seker te maak alles verloop volgens plan.

Selfs as dinge skeeftrek, glimlag sy breed en dans in die reën. Sagte hart. Omgee mens. Sy het ‘n passie vir bikers en oorlogsveterane.

Wanneer sy besluit om iets te doen, dan gebeur dinge. Sy weet hoe om te organiseer. Vir elke geleentheid gee sy haar alles.

Jackie en Riaan Jordaan saam met die bekende Afrikaanse sanger, Jay. Foto: verskaf

Jacké is gebore en getoë in Vereeniging. Agter haar sonskynglimlag en blink oë, ken sy ook die lewe se skerp punte. Daardie onverwagse donker klowe.

Haar pa, Ryno William Powell is in 2011 oorlede, ses dae nadat hy in ‘n motorongeluk was. Haar jongste boetie, agt jaar jonger as sy, is ‘n paar jaar gelede onverwags in Ierland oorlede.

In haar verlede skuil die seer van egskeiding. Deur alles het haar geloof haar gedra. Vandag is sy en Riaan Jordaan al sewe jaar getroud.

Jacke is ma van vier en Riaan het een dogter uit ‘n vorige huwelik. Vir hulle beteken dit net hulle het vyf kinders en drie kleinkinders. Die jongste kleinseun is in September gebore en oupa en ouma straal.

Sy en Riaan, wat al 30 jaar ‘n paramedikus en opgeleide brandweerman is, het mekaar 10 jaar gelede by ‘n bikerjol ontmoet.

“Riaan en my oudste broer, Jesse Powell het saam gewerk by Meyerton Brandweer. Hulle het mekaar jare geken, maar ons het mekaar eers 10 jaar gelede ontmoet,” lag sy.

Sedertdien is die twee onafskeidbaar en werk hul saam as die mediese personeel by feeste, skolesport en natuurlik bikerdae. Hulle was al selfs op fliekstelle waar hul op bystand was sou daar ‘n noodgeval wees.

Jacké saam met een van die Vaal se bekendste DJ’s, DJ Ben. Foto: Gerda Bruinette

Haar hart bly maar by die bikers. Sy het juis hierdie jaar twee projekte vir CMA Midvaal georganiseer. Met Bikers 4 Girlaz het hulle R30 000 se sanitêre produkte ingesamel wat onder behoeftige meisies versprei is. Die onlangse Bikers 4 War Heroes was ook ‘n reusesukses.

Een van haar jaarlikse hoogtepunte is om diens te doen by die Vaal Toyrun wat deur die Centurions Motorfietsklub gereël word.

“Ek kry elke jaar hoendervleis as ek die bikers met al die speelgoed sien,” vertel sy. Alhoewel sy baie lief is vir bikers, ry sy nie self nie. “Ek hou net vas,” lag sy lekker.

Biker Hart Radio DJ Minx du Preez saam met Jacké by die onlangse Bikers 4 War Heroes. Foto: Gerda Bruinette

Jacké en Riaan het onlangs by die SANW Kliprivier Eenheid aangesluit wat weermagveterane bystaan. Natuurlik is sy klaar weer aan’t organiseer aan ‘n groot fondsinsameling funksie vir die veterane.

Die Vasbyt Troepiefees vind 11 November by Sure Focus in Henley-on-Klip plaas met sangers soos Ysterperd Tert, Johnnie Takbok, Deronshay en TNT Plofstof Explosive wat gaan optree.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button