Broers verwerf Protea kleure
Die Herbst broers het hul goed van hul taak by die Ringtennis Wêreldkampioenskappe gekwyt. Lees meer...
VANDERBIJLPARK. – Die wêreldkampioenskappe vir ringtennis is van 30 Setpember tot 7 Oktober in Pretoria aangebied.
Onder die span van 48 wat Suid-Afrika verteenwoordig het, was daar twee broers van Vanderbijlpark. Breyton en Brendon Herbst was onderskeidelik deel van die o.23 en senior Protea spanne.
Dit was die eerste keer wat hulle aan ‘n amptelike ringtennis wêreldbeker deelgeneem het. “Ons het in spanverband deelgeneem en dan individueel by die ope dag,” het Brendon verduidelik.
Breyton, ‘n leerling van HS Driehoek, en sy spanmaat van Gauteng Sentraal, Marno Klaase, het ‘n silwer medalje tydens die ope afdeling verower.
Die Suid-Afrikaanse seniorspan het algheel tweede gekom. Die senior afdeling is deur Duitsland gewen en Indië was derde.
In die o.23 afdeling het Suid-Afrika brons verower. Indië was eerste en Duitsland tweede. Spanne van die VSA en Hong Kong het ook aan die toernooi deelgeneem.
Die toernooi is in hittegolf toestande gespeel, wat dinge vir die spelers moeilik gemaak het. Die volgende ringtennis wêreldkampioenskappe vind in 2027 plaas.
