Groot fees in Viljoensdrif
NG Gemeente Vijloensdrif is die jaar 75 en daar word groot fees gevier. Lees meer...
VILJOENSDRIF. – Die NG gemeente so duskant Lethabo-kragstasie is 75 jaar oud. Die huidige kerkgebou staan nou 50 jaar.
Die gemeente het op 16 September 1948 tot stand gekom en die heel eerste predikant, ds. A.J Etsebeth is op 30 Julie 1949 bevestig.
Om hul 75ste herdenkingsjaar te vier, het die gemeente besluit om groot te gaan.

Hul week van feesvieringe skop af 17 Oktober met ‘n Wynproe-aand waar die Afrikaanse sanger en liedjieskrywer, Stef Kruger die gaskunstenaar sal wees. Kaartjies beloop R150 per person.
Die naweek van 20 – 22 Oktober gaan ‘n woelige naweek wees in Viljoensdrif. Vrydagaand begin op ‘n hoë noot met ‘n semi-formele dinee en ‘n spesiale vyf-item veiling.
Een van die eksklusiewe items wat opgeveil gaan word is ‘n handgeweefde persiese tapyt. Stef Kruger kuier die hele naweek saam en sal dan ook in aksie wees by die dinee.
Saterdag, 21 Oktober word daar ‘n familiefees beplan. Daar sal van vroegoggend gekuier word rondom allerlei stalletjies en daar is heelwat interessante aktiwiteite op die spyskaart.

Dit sluit boeresport, windbuks- en boogskiet in. Wanneer die son begin lang skaduwees maak, sal die braaivleisvure aangesteek word vir ‘n laatmiddag kuier en lekker eet.
Almal is welkom om saam te kom kuier. Braaipakkies en bykosse is beskikbaar teen R100 per persoon. Bring net jou eie kampstoele, eetgerei en opvoutafel. Die manne gaan vir hul vroue braai, so pak die braaitang ook in.
Die feesnaweek word afgesluit met ‘n spesiale diens Sondagoggend om 09:00 wat deur Dr. Jan de Man gelei sal word.
Daar is nog stalletjies teen R100 per stalletjie beskikbaar vir Saterdag. Besprekings vir die wynproe-aand en dinee is noodsaaklik. Kontak vir Jan de Man by 082 748 2350 vir meer besonderhede.
