Hart eis geliefde sakeman
Mnr. Neels Harmse se troosdiens word Maandag, 16 Oktober, om 10:00 by die NG Gemeente Drie Riviere gehou.
VANDERBIJLPARK. – “Neels laat ‘n verskriklike leë plek in my hart.” Só sê mev. Elsie Harme, weduwee van die Vaaldriehoekse sakeman, mnr. Neels Harmse, wat verlede Saterdag aan hartversaking gesterf het.
Neels, wat die eienaar van H&M Metals in Langenhovenstraat was, het deur die jare nie net vir sy eie gesin gesorg nie, maar ook ‘n oop hand vir die mindergegoede gemeenskappe van alle rasse in CW6 gehad.
Hy is in 1951 in Schweizer-Reneke gebore en het in Odendaalsrus skoolgegaan voordat hy in 1974 ‘n metaalhandelaar geword het. Hy het die afgelope 34 in die Vaaldriehoek gewoon, waar hy ‘n baie suksesvolle sakeonderneming opgebou het.
“Neels was ‘n wonderlike mens wat altyd ander wou help. ‘n Sagte, liefdevolle en verantwoordelike soort mens. Hy het gehou van visvang en was gek oor sy huis en gesin,” sê Elsie.
Hy word buiten sy vrou ook oorleef deur sy seuns Nicky, Vincent en Justin, dogter Zelda, sy skoonkinders en vyf kleinkinders.
Die troosdiens word Maandag, 16 Oktober, om 10:00 by die NG Gemeente Drie Riviere op die hoek van Bashee- en Umgenistraat, Vereeniging, gehou. Dit is dieselfde kerk waar Neels en Elsie in 1985 getrou het en waar hul kinders deur die jare gedoop, aangeneem en voorgestel is.
H&M Metals, wat volgende jaar ‘n halfeeu oud word, sal deur die familie voortgesit word.
Elsie het dié groetboodskap oor haar oorlede man geskryf:
Jy is nie net my vriend nie
Jy is my liefde
Jy is nie net my liefde nie
Jy is my hart
Jy is nie net my hart nie
Jy is my lewe
Jy is nie net my lewe nie
Jy is my ALLES
❤ Vir ewig en altyd – jou vrou Elsie


