Steeds gelukkig na ses dekades
Groot mylpaal vir die Van Heerdens van Sasolburg. Lees meer...
SASOLBURG. – 5 Oktober 1963 om 16:00 het Koster en Joey van Heerden ewig trou aan mekaar gesweer. Dis 60 jaar later en die paartjie straal steeds.
“Ek kan nie glo dis al so lank terug nie,” glimlag tannie Joey. Sy en Oom Kossie, soos wat haar man al die jare in Sasolburg bekend is, woon in Ons Gryse Jeug Ouetehuis.

‘n Rustige aftrede, maar van rus was daar vroeër jare geen sprake nie. HTS Sasolburg se een koshuis dra nie verniet die naam Koster van Heerden nie.
Die gebou is in 1997 herdoop ter ere aan Koster wat op daardie stadium al 21 jaar by HTS Sasolburg koshuisvader en onderwyser was. Die egpaar was vir 35 jaar koshuisouers van die koshuis.
Tannie Joey was almal se ma en het alles van die administratiewe kant tot by die personeelbestuur en kosmaak behartig.
“Ons het duisende kinders deur die jare grootgemaak. Ek het swaar afskeid geneem toe ek afgetree het in 2006,” skud sy haar kop.
Onderwys en om koshuisouers te wees was nie oorspronklik deel van die plan nie. In 1963 het hul in Bloemfontein gebly. Joey was ‘n administratiewe beampte en Koster ‘n gekwalifiseerde meulmaker (millwright).
Alles het verander nadat Koster op ‘n advertensie vir ‘n onderwyser in Ficksburg gereageer het. Die Van Heerdens het tot in 1976 in Ficksburg gewoon.
Uiteindelik het hul Sasolburg toe verhuis en hier het ‘n lewenslange band met HTS Sasolburg begin. Hier het hy nie net ‘n impak as onder meer vir pas en draai en tegniese tekeninge onderwyser gehad nie, maar ook as sportafrigter.
“Ek het die eerste rugbyspan afgerig en in 1986 het ons geskiedenis gemaak toe ons vir die eerste keer die direkteurstrofee huis toe gebring het,” vertel oom Koster trots.
“Pa het ook paalspring afgerig,” voeg sy dogter, Hanlie Buys by. “Daardie een jaar het Jean Terblanche die o.15 Afrika rekord gebreek.”
Sport was nog altyd in Koster se bloed. Hy het die Vrystaat op sy dag self in boks, rugby en jukskei verteenwoordig. “Hy is ‘n legende,” vertel sy seun, Kruger met trots. “Hul albei is.”
Die Van Heerdens is op 5 Oktober verras met ‘n huweliksherdenkingspartytjie by die ouetehuis, wat hul sommer baie geniet het.
Amper so baie soos hul huweliksonthaal 60 jaar gelede. “Ons het 16:00 die middag getrou en daarna is die onthaal in die boma in my ouers se erf gehou,” onthou Joey. “Dit was die lekkerste troue ooit.”
