Local newsNewsNews

4 Eva Young steel harte by Aardklop

Van Meyerton tot Potchefstroom die jong band leef hul droom

MEYERTON. – Net sodra mens dink die jongelinge van die 4 Eva Young band raak rustig, dan verras hul weer van vooraf. Die afgelope maand of wat was die vier hard aan die werk met verskeie optredes en opnames.

Nie net het hul die skare aan hul voete gehad tydens die Midvaal Somerfees wat by die Hoërskool Dr. Malan aangebied is nie, hulle het ook twee dae by die Aardklopfees in Potchefstroom opgetree.

4 Eva Young in aksie by Aardklop in Potchefstroom.

Dan is hul super opgewonde, want die opnames vir hul nuwe musiekvideo, Tiekiedraai, is afgehandel en nou wag hul in spanning vir die vrystelling daarvan in November.

Caitie Rock, (gr. 7) sanger, sê: “Ons het ‘n klomp vriende bymekaar gemaak en lekker gedans op die liedjie. Dit was twee dae se dans en pret op die plaas, “De Oudtstoor”.

“Ons laaste opname was gedoen tydens ons optrede by die Midvaal Summer Festival. Dankie vir almal wat saam kom dans het. Ek weet jul bene en voete was lekker seer gedans.”

Die jongste lid van die groep en die een wat die dromme slaan, Zandri Bezuidenhout (gr. 5) beskryf die video-opname naweek as baie lekker, maar uitputtend.

Die laaste opname van hul nuwe video is by die Midvaal Somerfees opgeneem. Foto’s: HD Xtion

Sy het dit veral geniet toe hulle met die kleurpoeier kon werk. Daar is blykbaar ‘n kleurontploffing in die video te sien en Zandri sê: “Dit was hoendervleis mooi.”

Die naweek van die opnames was erg warm en dit het almal teenwoordig se energie getap. Maar, soos sanger en kitaarspeler, Johan van Rooyen (gr. 8) tereg sê, “elke keer as Tiekiedraai gespeel het, het ons ‘n nuwe huppel in ons stap gekry.”

Baskitaarspeler, Reuben Herbst (gr. 6) het prontuit verklaar: “Om deel te wees van ‘n musiekvideo ‘shoot ‘is baie meer uitputtend as ‘n rugby ‘game’.” Hy het darem bygevoeg, “ons kan nou dans soos pro’s!”

Dit was 4 Eva Young se tweede kennismaking met Aardklop, maar die eerste keer wat hul by Aardklop in Potchestroom opgetree het. Verlede jaar is die fees in Pretoria aangebied.

Oor hul Aardklop-ervaringe kan hul nie uitgepraat raak nie. Catie sê die gehoor was so vol energie, sy het soos ‘n ‘energizer bunny’gevoel. “Daar was selfs ‘n paar mense wat lekker saamgedans het.”

Self het sy baie van Sean Miles en Jak de Priester se vertonings gehou. Almal was dit eens dat hul elke oomblik geniet het.

Reuben erken hy het al sy geld by die melkskommelstalletjie spandeer, terwyl Zandri gek was oor die slush puppies.

Reuben het die ‘band’ se gevoel mooi saamgevat met: “Aardklop onthou ons asseblief weer volgende jaar. Ons weier om dit te mis.”

Back to top button