Oorledene daag nooit op
Sy het haar werkers die oggend wat sy vermoor is afgelaai, maar nooit weer teruggekom om hulle op te tel nie.
VEREENIGING. – Die 67-jarige eienaar van ‘n tuindiensonderneming van die stad wie se lyk in Februarie langs ‘n treinspoor naby Redan gevind is met koeëlwonde in haar kop het op die oggend van haar spoorlose verdwyning drie werkers by ‘n kliënt in Vereeniging afgelaai maar nooit weer teruggekeer om hulle te kom haal nie.
Die opspraakwekkende moordverhoor het verlede week in die hooggeregshof by Palm Ridge begin.
Tersia Steenberg, een van die oorledene se kliënte, is een van talle getuies wat ingeroep is om te kom getuig.
Steenberg het getuig dat Fenn en haar werkers reeds die afgelope drie jaar tuindienste aan haar verskaf deur een maal ‘n week gras te sny en instandhouding te doen.
Op die oggend van Fenn se spoorlose verdwyning op Donderdag 2 Februarie 2023 het Fenn glo die werkers en toerusting by haar huis afgelaai en daarna vertrek.
Volgens Steenberg het die werkers teen ongeveer 12:00 aan haar deur geklop en laat weet dat Fenn nog nie gekom het om hulle te kom oplaai nie, waarna sy vir Fenn gebel het.

Steenberg het getuig dat Fenn oor die foon aan haar veruidelik het dat sy moes ry om iets wat te swaar vir haar waentjie was te gaan optel.
Steenberg het getuig dat sy onraad vermoed het toe Fenn teen 15:00 steeds nie opgedaag het om die werkers en toerusting te kom haal nie.
Daarna het Steenberg albei Fenn se selfone gebel maar die oproepe het reguit na haar stemposbus (“voicemail”) herlei.
Teen 17:10 het Steenberg vir Fenn se seun, Grant du Toit, geskakel om die werkers en die toerusting op te tel, waarna hy 5 minute later opgedaag het.
Volgens Steenberg het Du Toit toe die toerusting gelaai en die werkers saam met hom geneem.

Sy het getuig dat Du Toit toe afgetrokke (“distant”) voorgekom het.
Die volgende dag – Vrydag 3 Februarie 2023 – omstreeks 23:00 het Du Toit glo vir Steenberg geskakel en gevra of sy iets weet aangesien Fenn nie teruggekeer het nie.
Steenberg het getuig dat sy hom aangeraai het om die polisie te bel.
Dit was die laaste wat hulle gepraat het.
Op Saterdagoggend 4 Februarie 2023 het die oorledene se kleindogter, na Steenberg gegaan en haar uitgevra oor haar ma.
Steenberg het toe verneem dat Fenn se uitgebrande KIA-bakkie op ‘n plaas in Sasolburg gevind is.
Fenn se lyk is Maandag 6 Februarie in ‘n veldjie langs die spoorlyn by Redan gevind met koeëlwonde in haar kop.
*Die saak duur tans in die hooggergshof in Palm Ridge voort en is uitgestel tot Dinsdag 17 Oktober 2023.

