Seun raak glo aggressief tydens ondervraging
Die ondersoekbeampte het getuig dat Grant du Toit (46) uit die bloute aggressief geraak het toe hy oor sy ma, Charlotte Fenn (67) se moord uitgevra is.
*Die storie het eerste in Vaalweekblad van 13 Oktober verskyn. Koop ons koerant op Vrydae vir die jongste nuus.
VEREENIGING. – “Ek het nie my f*kk*n ma doodgemaak nie!”
Dit is glo die woorde wat Grant du Toit (46) geskree het toe ‘n polisiekaptein hom op 7 Februarie by die Vereenigingpolisiestasie oor die moord op sy ma, die 67-jarige Charlotte Christine Fenn van Sonlandpark, ondervra het.
Fenn, wat ‘n tuindiensonderneming bedryf het, het op 2 Februarie vermis geraak.
Haar ontbinde lyk is Maandag, 6 Februarie in ‘n veld langs die treinspoor naby Redan gevind met koeëlwonde in haar kop.
Haar uitgebrande KIA-bakkie is op ‘n plaas in die omgewing van Sasolburg gevind.

Du Toit, wat saam met sy ma op ‘n kleinhoewe in Sonlandpark gewoon het, asook Quinton Edgar (52) en Lindsay Kirton (31) wat albei by Fenn loseer het, staan tereg op haar moord.
Die verhoor het op 2 Oktober in die hooggeregshof by Palm Ridge begin en verskeie getuies is die afgelope twee weke aangehoor.
Jestus Fouché, ‘n afgetrede polisiekaptein wat Du Toit ondervra het, het getuig dat die oorledene se seun in ‘n stadium tydens die ondervraging uit die bloute “aggressief en baie kwaad” geraak het en op hom begin skree het.
Fouché het getuig dat hy van die geleentheid gebruik gemaak het om vir Du Toit te vra waar die moordwapen (in hierdie geval ‘n vuurwapen) was, aangesien verdagtes in sy ervaring sukkel om leuens te vertel wanneer hulle kwaad is.
Du Toit het glo geantwoord: “die f*kk*n geweer is in my kas onder my klere.”
Fouché het toe die ondersoekbeampte, sers. Felix Ndlovu, gebel en gevra om vir ‘n vuurwapen in die klerekas in Du Toit se slaapkamer onder sy klere te soek.

‘n Vuurwapen (‘snake gun’ of tipe haelgeweer) is daar gevind.
Fouché het verder getuig dat hy in daardie stadium oortuig was dat dit dieselfde vuurwapen is wat vir die moord op Fenn gebruik is.
Die polisie het ook op ‘n groot hoeveelheid ammunisie beslag gelê.
Dit blyk egter onwaarskynlik dat dié spesifieke wapen die moordwapen was.
Fouché het later getuig oor .38 doppies wat by die toneel gevind is.
Dit dui moontlik daarop dat Fenn se eie rewolwer waarskynlik gebruik is om haar mee te skiet.
Kledingstukke wat in ‘n wasgoedmandjie in Du Toit se kamer gevind is en glo vol gras, modder en bloed was, is ook vir forensiese DNS-toetse gestuur.
Die staat het tydens Du Toit se borgaansoek toegegee dat buiten die bloed op die klere, daar (in hierdie stadium, terwyl daar vir die uitslag van forensiese toetse gewag word) nie veel bewyse is wat die beskuldigde (Du Toit) met die moord verbind nie.
Du Toit is die enigste van die drie verdagtes wat tans op borgtog uit is.
*Du Toit se stiefbroer, George Naber, het aan Vaalweekblad gesê dat hy in sy broer se onskuld glo, en dat daar volgens hom nog geen bewyse is dat sy broer by die moord betrokke was nie. Die bebloede klere wat in Du Toit se kamer gevind is, is vir forensiese DNS-toetse gestuur, maar die uitslag is steeds uitstaande.
*Die saak duur tans in die hooggergshof in Palm Ridge voort en is uitgestel tot 17 Oktober 2023.

