Local newsNewsNews

Winkelstrokie lei tot deurbraak in moordsaak

Dié winkelstrokie is 'n belangrike bewysstuk in die saak.

VEREENIGING. – ‘n Winkelstrokie wat op die misdaadtoneel in die vermoorde Charlotte Fenn (67) se sak gevind is het gelei tot die ontdekking van ‘n kringtelevisievideo wat Quinton Edgar (50) en Lindsay Kirton (30) met die moord verbind.

Edgar en Kirton staan saam met Fenn se eie seun, Grant du Toit (46), tereg op haar moord.

Al drie die beskuldigdes het op die oorledene se kleinhoewe in Sonlandpark gebly met Edgar en Kirton wat daar geloseer het.

Quinton Edgar en Lindsay Kirton in die beskuldigdebank by die hof in Palm Ridge. Foto: Christiaan Cloete

Die lyk van die 67-jarige Charlotte Christine Fenn is Maandag, 6 Februarie in bosse langs die spoorlyn by Redan gevind nadat sy vermis geraak en haar uitgebrande bakkie op ‘n plaas naby Sasolburg gevind is.

Die oorledene het skietwonde aan haar kop gehad.

Op die toneel het die polisie ‘n winkelstrokie in die oorledene se sak gevind met ‘n inligting oor wat gekoop is, waar en wanneer.

Die ondersoekbeampte is op 9 Februarie met dié inligting na Checkers by die Arcon Park-winkelsentrum in Vereeniging waar hy geslotekringtelevisie-beelmateriaal aangevra het van die tyd wat die transaksie (op die strokie) plaasgevind het.

Sers. Felix Ndlovu, die ondersoekbeampte in die saak, verlaat die Palm Ridge hof. Foto: Christiaan Cloete

Die beeldmateriaal wys volgens die staat dat die oorledene en Kirton op die dag van haar verdwyning (2 Ferbuarie) langs mekaar in die winkel gestaan en saam die winkel verlaat het.

Op die video het Kirton lang hare en dra sy ‘n sonbril met ‘n swart raam. (Getuienis is aangehoor dat Kirton se hare korter gesny is toe sy later in hegtenis geneem is).

Op beeldmateriaal in die parkeerterrein sien mens hoe die oorledene en Kirton in Fenn se Kia bakkie klim.

Fenn bestuur die voertuig, met Kirton op die passasiersitplek.

Die bakkie verlaat die parkeerterrein en draai links in die rigting van die R59-snelweg.

Die staat sê Lindsay Kirton was saam met die oorledene by Checkers op die dag wat sy vermoor is en hulle het kringtelevisievideo om dit te bewys. Foto: Christiaan Cloete

Beeldmateriaal wat op dieselfde dag geneem is wys hoe Fenn se KIA-bakkie en ‘n Opel Kadett wat aan Edgar behoort, omstreeks 16:14 weer by die winkelsentrum se parkeerterrein opdaag.

Edgar klim dan uit die oorledene se KIA, stap die winkelsentrum binne en kom later terug met ‘n sak en ‘n houer.

Hy giet dan die inhoud van die houer uit. Later kan mens sien hoe die Opel Kadett na die nabygeleë vulstasie ry waar die beskuldigde die petroljoggie vra om die leë houer vol petrol te maak.

Altesaam R110 se petrol is ingegooi. Die Opel Kadett ry dan weer terug na waar Fenn se KIA geparkeer is.

Dan sien mens hoe Edgar die parkeeterrein in die oorledene se bakkie verlaat, met Kirton wat hom dan in die Opel Kadett agtervolg.

Toe Kirton se regsverteenwoordiger, Nthabiseng Mokoena, verlede week vir die ondersoekbeampte, sers. Felix Ndlovu gevra het of hy die winkelstrokie as ‘n belangrike bewysstuk in die saak beskou het hy “ja” geantwoord.

*Die saak word tans in die hooggeregshof in Palm Ridge verhoor. Die saak duur vandag weer voort.

Lindsay Kirton se regsverteenwoordiger, Nthabiseng Mokoena (middel), verlaat die hof saam met ander regslui wat by die saak betrokke is. Foto: Christiaan Cloete

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button