Local newsNewsNews

Beskuldigdes se alibi’s

Twee van die beskuldigdes het aan die polisie vertel dat hulle op die dag wat die 67-jarige Charlotte Fenn vermis geraak het by ‘n vragmotorwerkswinkel langs die R59-snelweg was.

VEREENIGING. – Die drie beskuldigdes wat van die moord op die 67-jarige Charlotte Fenn van Sonlandpark aangekla word het verskillende alibi’s aan die polisie verskaf met uiteenlopende verduidelikings oor waar hulle op die dag van Fenn se spoorlose verdwyning was.

Fenn het ‘n tuindiensonderneming bedryf en was bekend en geliefd onder inwoners van die Vaaldriehoek.

Die oorledene se seun, Grant du Toit (46), en ‘n paartjie wat op haar kleinhoewe geloseer het, Quinton Edgar (50) en Lindsay Kirton (30), staan nou op die moord tereg.

Die polisie het Fenn se lyk op 6 Februarie 2023 in ‘n veldjie langs die spoorlyn by Redan gevind met skietwonde in haar kop. Dit volg nadat sy op Donderdag 2 Februarie vermis geraak het en haar uitgebrande voertuig later op ‘n plaas in die Sasolburg-omgewing gevind is.

Jestus Fouché, ‘n voormalige polisiekaptein met meer as 35 jaar ondervinding by die Suid-Afrikaanse polisiediens wat al drie die beskuldigdes ná die moord ondervra het, het onlangs in die hof getuig oor die alibi’s wat die verdagtes aan die polisie verskaf het.

GRANT DU TOIT SE ALIBI:

Grant du Toit (46) het vir die polisie vertel hy was op die dag wat sy ma vermis geraak het meestal op die kleinhoewe waar hul albei gebly het. Hy het wel omstreeks 14:00 na Tersia Steenberg se huis gery om sy ma se werkers te gaan oplaai toe sy nie opgedaag het om hulle kom haal nie. Hy is daarna weer huistoe. Foto: Christiaan Cloete

Volgens Fouché het Grant du Toit aan hom vertel dat hy omstreeks 07:00 op die dag van sy ma se spoorlose verdwyning opgestaan het toe sy die kleinhoewe verlaat het om te gaan werk.

Du Toit het glo ook aan Fouché vertel dat hy homself die heel dag op die kleinhoewe besig gehou het.

Fouché het verduidelik dat volgens Du Toit se weergawe hy tot 14:00 in ‘n motorwerkswinkel op die kleinhoewe gewerk het.

Volgens dié weergawe het Du Toit omstreeks 14:00 ‘n oproep van Tersia Steenkamp, een van sy ma se kliënte, ontvang waartydens hy gevra is om sy ma se werkers op te tel aangesien sy hulle die oggend afgelaai het en nooit weer kom haal het nie.

Volgens Fouché het Du Toit aan hom vertel dat hy die werkers gaan haal het en toe weer terug na die kleinhoewe is en dat hy tot 23:00 in die aand daar gebly het.

Fouché het getuig dat Du Toit in ‘n stadium tydens die ondervraging uit die bloute uit aggressief geraak en geskree het: “Ek het nie my f*kk*n ma doodgemaak nie!”

Fouché het van die geleentheid gebruik gemaak om vir Du Toit te vra waar die vuurwapen is, aangesien verdagtes in sy ondervinding sukkel om te lieg wanneer hulle kwaad is.

Hierop het Du Toit glo gesê het dat die vuurwapen in ‘n kas onder sy klere is.

Fouché het toe die ondersoekbeampte gebel en gevra het om vir dié vuurwapen te soek.

n Sogenaamde “snake gun” (‘n tipe van haelgeweer) is toe wel in Du Toit se kamer gevind, waar hy gesê het die wapen is.

Fouché het getuig dat hy in daardie stadium oortuig was dat dié wapen die wapen was waarmee Fenn vermoor is.

Dit blyk egter of dié wapen nie die moordwapen is nie, aangesien .38 doppies op die toneel aangetref is waar Fenn se lyk gevind is.

Dit dui daarop dat Fenn moontlik eerder met haar eie handwapen geskiet is.

QUITON EDGAR SE ALIBI:

Quinton Edgar beweer hy was op die dag wat Charlotte Fenn vermis geraak het by die Lazer Fast Truck Shop waar hy heeldag aan ‘n vragmotor gewerk het. Foto: Christiaan Cloete

Volgens Fouché het Quinton Edgar tydens die ondervraging aan hom verduidelik dat hy op 2 Februarie – die dag wat Fenn vermis geraak het – met Lindsay Kirton en haar twee kinders in sy Opel Kadett voertuig geklim het en dat hulle al vier saam na die Lazer Fast Truck Stop, ‘n vragmotorwerkswinkel langs die R59, is waar hy op die betrokke dag aan ‘n vragmotor gaan werk het.

Fouché het getuig dat hy aanvanklik Edgar se alibi as baie oortuigend beskou het, aangesien Edgar selfs gedetaileerde besonderhede verstrek het oor die vragmotor waaraan hy gewerk het.

Volgens Fouché het Edgar aan hom vertel dat Grant du Toit later die oggend in ‘n geel bakkie daar aangekom het en gevra het of hy Edgar se Opel Kadett kan leen om herwinningswerk mee te doen.

(Du Toit het glo ‘n herwinningsprojek bedryf waarmee hy ou plastiek en metaal aan skroothandelaars verkoop het en sodoende R10 000 per maand verdien het).

Volgens Edgar se weergawe sou Du Toit toe die voertuig geneem het.

Hy het eers weer 17:00 teruggekeer.

Volgens Fouché het Edgar tydens die ondervraging vertel dat hy en Du Toit toe gestry het omdat Du Toit laat was, die brandstof op was en daar modder op die voorkant van die voertuig was.

LINDSAY KIRTON SE ALIBI:

Lindsay Kirton het aanvanklik vir die polisie vertel dat sy saam met Quinton Edgar by die Lazer Fast Truck Stop was op die dag wat Charlotte Fenn spoorlos verdwyn het. Nadat sy gekonfronteer is met bewyse dat sy saam met Fenn in die Arcon Park Shopping Centre was het sy glo ‘n ander deuntjie gesing. Nou ontken sy dat sy ooit ‘n bekentenis afgelê het wat die staat as ‘n bewysstuk wil indien. Foto: Christiaan Cloete

Volgens Fouché het Lindsay Kirton aanvanklik dieselfde alibi as Edgar verskaf.

Sy het aangedui dat sy niks het om weg te steek nie en dat sy nie by die moord betrokke was nie. Sy het aangedui dat sy en die oorledene ‘n goeie verhouding gehad het,” het Fouché getuig.

Nadat Fouché vir Kirton gekonfronteer het met ‘n skermskoot van die kringtelevisievideo wat wys dat sy en die oorledene saam by die Arcon Park Shopping Centre was op 2 Februarie – die dag wat Fenn spoorloos verdwyn het – het Kirton volgens Fouché eers gehuiwer en toe vir hom gesê dat sy graag wil vertel wat werklik gebeur het.

Dit het daartoe gelei dat Kirton later ‘n bekentenis voor kapt. Wessie Wessels, ‘n vredesbeampte verbonde aan die polisie se speurtak in Heidelberg, afgelê het.

Die staat wil Kirton se bekentenis as bewysstuk indien, maar Kirton se regsverteenwoordiger, Nthabiseng Mokoena, voer aan dat die bekentenis nie toelaatbaar is as getuienis nie aangesien haar kliënt “nie die outeur van die bekentenis is nie” en sy “nooit van haar grondwetlike regte ingelig is nie”.

Mokoena voer ook aan dat die polisie sekere beloftes aan Kirton gemaak het en dat hulle gesê het hulle sou dit nakom indien sy die bekentenis aflê.

n Binneverhoor oor die toelaatbaarheid van Kirton se bekentenis word tans gehou.

*Die verhoor vind by die hooggeregshof in Palm Ridge plaas. Die verhoor word Donderdag (19 Oktober 2023) hervat.

Die Lazer Fast Truck Stop langs die R59. Twee van die beskuldigdes het aan die polisie vertel dat hulle hier was op die dag wat Charlotte Fenn spoorloos verdwyn het. Foto: Christiaan Cloete

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button