Local newsNewsNews

Ek sê maar net…

RUBRIEK. - Wanneer pekinesies hul soos grote rugbyspelers begin gedra, dan is daar moeilikheid. So 'n tong in die kies weergawe van 'n onderonsie tussen twee van hulle.

RUBRIEK. – Ek is bevrees ons pekinese het kleintyd te veel rugby gekyk. Stoere Springbokondersteuners.

Baba Bessie (10 kg) het die Springbokke se speelstyl by die afbreekpunte bestudeer. Storm soos ‘n wafferse stut in, stamp die teenstander weg, en eet dan hul kos op.

Steur haar nie eintlik as sy strafskoppe afstaan in die proses nie. Sy het ook ‘n saak daarmee dat haar teenstanders heelwat kleiner gebou is as sy. Mag dalk ‘n pekinees van geboorte wees, maar sy verdien haar bynaam Boerboel Bruinette.

Dan is daar Kleinsus Antjie (5kg). Sy het ‘n oorlogskreet wat aan die Haka herinner, is gebou soos ‘n skrumskakel, maar verbeel haar sy kan sak in die voorry. Sy het die spoed van ‘n vleuel, al vat haar regter agterbeen nooit grond nie.

Woensdag het Bessie en Antjie weer ‘n onderonsie van epidermiese proporsies gehad. Ek was nie daar nie, maar blykbaar het die twee oor ‘n bordjie gekookte eier baklei.

‘n Duur kommoditeit ek weet, maar as Kleinsus Antjie iets soek om te eet, dan soek sy iets om te eet en dit sluit nie droë hondekos in nie.

Ek weet sy is die mees bederfde hondjie wat ek al in my lewe teëgekom het, maar sy is ook koningin van die huis en dan het sy mos die ou kruppelbeentjie… ‘n Kaart wat sy net speel wanneer dit haar pas.

So kry elkeen toe van die eier. Wel, Bessie en Heidi kry die eierwit, want Antjie eet net eiergeel. Skop Antjie eers weer vas. Dit was nie heeltemal wat sy in gedagte gehad het nie.

Sit en staar na die bordjie in plaas van om te eet. Bessie aan die anderkant verbeel haar sy is ‘n stofsuier, een slurp, en haar bak is leeg.

Op die kritieke punt moes Ma gou die kombuis verlaat. Met die skeidsregter se rug gedraai, het Bessie die kans gebruik om die losgemaal van die kant af te bestorm en summier Antjie se eier te eet.

Net daar ref Antjie se Bruinette-humeur in die rooi. Sy vergeet geheel en al sy is die skrumskakel en val aan. Bessie, omgekrap omdat haar gesteelde happie in gedrang is, skud die skrumskakeltjie van haar af en daar bars ‘n handsakgeveg van formaat los.

Ma moes tussenbeide tree en dit was hittete of die skeidsregter is gewond. Eindelaas is Bessie met ‘n rooikaart die huis uitgestuur. Antjie het ‘n geelkaart gekry en moes op Ma se bed gaan afkoel.

Ma het tevergeefs probeer om die gekookte eier uit Antjie se hare te kry. Na wat verneem word, was die stut lankal gereed om blad te skud en vrede te maak, toe is die skrumskakel nog steeds beduiweld.

Sy het in detail vir Her Royal Naughtyness Heidi vertel dat sy op die punt was om die oorhand te kry as die skeidsregter nie so ontydig ingegryp het nie. Sela!

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button