Local newsNews

Jong vrou sterf ook by ‘broers se boom’

'n Motoris wat die aand agter Geline gery het, was moontlik 'n ooggetuie van die ongeluk. Hy word versoek om asseblief 066 333 8616 te kontak as hy meer inligting oor die gebeure het.

 

Soos berig in Vaalweekblad se papieruitgawe van 13 Oktober 2023

SASOLBURG. – ‘n Berugte boom wat gevaarlik na aan die pad op die R57-roete naby die Ekopark staan, het verlede Donderdagnag nóg ‘n lewe geëis.
Me. Geline Groenewald, ‘n jong vrou van Sasolburg, het op slag gesterf toe sy die nag van 4 Oktober omstreeks 00:30 met haar bakkie teen die boom gebots het. Dit was op presies dieselfde plek waar die broers Nicky en Michael Pretorius op 28 Junie in ‘n ongeluk betrokke was. Michael het met baie ernstige beserings oorleef, maar Nicky het die oggend na hul ongeluk in die hospitaal gesterf.

Geline was ‘n werknemer van NWB Carriers en Horse & River Restaurant in Vanderbijlpark, maar was die aand voor haar ongeluk nie aan diens nie. Volgens ‘n vriendin, me. Sybil Jansen van Vuuren, het Geline die aand saam met vriende gekuier voordat sy kort voor middernag alleen huis toe gery het.

Sy was reeds in die afrit om na Sasolburg af te draai toe sy die boom en die kruis, wat ter ere van wyle Nicky hier opgerig is, tref. Dit is snags pikdonker op dié stukkie pad en talle motoriste het hulle al met die skerp draai in die afrit misreken. Nooddienste was gou op die toneel maar niks kon meer vir Geline gedoen word nie.

Volgens Sybil is Geline deur haar grootouers in Sasolburg grootgemaak. Sy het aan die Laerskool Kollegepark en Hoërskool Sasolburg skoolgegaan, waar hokkie haar gunstelingsport was. Haar grootouers sowel as haar ma is intussen oorlede.
“Haar vriende sal haar veral onthou vir haar groot liefde vir diere en die natuur. As sy ‘n krokodil kon optel en versorg, sou sy dit seker doen. Al het sy moeilike kinderjare gehad kon niks haar onderkry nie,” sê Sybil.

“Sy was altyd positief en het die lewe met al sy draaie moedig aangepak. In ‘n onlangse gesprek het sy vir my gesê sy sou graag ‘n privaatspeurder wou word. Sy het daarvan gehou om dinge self te gaan ondersoek en uit te sorteer. Sy was iemand wat lekker kon lag en het altyd iets moois van ander te sê gehad.”

Hoewel Geline net ‘n klein groepie gewaardeerde vriende gehad het, was dit veral Ryno Botha en sy ouers wat hulle die afgelope paar jaar oor haar ontferm het en haar soos ‘n familielid in hul huis ingeneem het. “Ons waardeer opreg wat hulle vir haar gedoen het,” sê Sybil. ‘n Gedenkdiens is Vrydag, 13 Oktober, om 14:00 by River of Life in Vanderbijlpark gehou.
* ‘n Man wat die aand agter Geline gery het, was moontlik ‘n ooggetuie van die ongeluk. Sybil doen ‘n beroep op hom om met haar in verbinding te tree by 066 333 8616.

Wyle Geline Groenewald.
Die wrak van Geline se bakkie waar dit teen die boom tot stilstand gekom het.
Michael Pretorius saam met sy pa, mnr. Nicky Pretorius Senior by dieselfde boom waar die twee Pretorius-broers op 28 Junie in ‘n botsing betrokke was. Nicky Pretorius Junior het die oggend na hul ongeluk aan sy beserings beswyk.
Dié lugfoto toon aan hoe naby die boom aan die pad staan.

 

 

Wyle Geline Groenewald. Haar vriende onthou haar veral vir haar groot liefde vir diere en die natuur.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button