Danskampioene in eie reg
Die dansgroep van Chalkboard Champs, 'n leersentrum vir kinders met spesiale behoeftes, geniet elke oomblik op die verhoog. Lees meer...
VANDERBIJLPARK. – Nie almal sien kans om op ‘n vreemde verhoog te klim en te dans nie. Vir kinders met Down Sindroom, outisme en ander spesiale behoeftes is die uitdaging soveel groter.
Tog, laat die groep dansers van Chalkboard Champs hul nie stuit nie. Die groep dapper jongelinge het 30 September hul staal op die verhoog tydens Show Stoppers gewys.

Met hul dans, Special trip to Egypt, het hul 91% verdien en daarmee saam ‘n derde plek in die ope afdeling verower. Elke groeplid het twee medaljes en ‘n sertifikaat ontvang.
En dan is daar die pragtige trofee wat altyd staan waar elke leerder van dié sentrum vir kinders met spesiale behoeftes dit kan sien.
“Daar was nie ‘n afdeling vir kinders met spesiale behoeftes nie, so hulle het in die ope afdeling meegeding teen van die Vaal se top dansstudio’s en selfs Transvalia se cheerleaders,” het Chalkboard Champs se mede-eienaar, Nadya Vermeulen vertel.
“Die groep is ‘n mengsel van outiste, Down Sindroom en ander gestremdhede, maar hulle oefen elke dag met toewyding en geniet dit vreeslik,” sê mede-eienaar, Mirna Vermeulen.
Die dansgroep is verlede jaar gevorm met die hulp van Leandi Goosen van Just Dance Studio. Sy werk vir hulle die choreografie uit en dan moet die jongklomp elke dag oefen onder leiding van Mirna en Nadya.

“Mirna vaar beter met die dansery as ek,” beduie Nadya en lag lekker. “Leandi gee vir hul moeilike bewegings.
“Met Show Stoppers het die vyfjariges, die middelgroep en die twee ouer dansers almal hul eie bewegings gehad en daar was ‘n punt waar hulle hul boonste hemde moes uittrek vir die finale. Dit alleen het ure se oefening geverg,” beduie Mirna.
Die twee is dit eens dat die dansery baie goed is vir die jongklomp. “Ons kinders kan enige iets doen. Mense onderskat hulle, maar as hulle eers die resep het, dan voer hulle dit presies uit. Moet net nie aan die resep verander nie,” vertel Nadya trots.
Show Stoppers was nie die Chalkboard Champs se eerste optrede nie, hulle het ook al by die Konsentrasiekampdag opgetree waar hul op die maat van Bok van Blerk se De la Rey gedans het.
