Local newsNews

‘Ons kan nie ophou huil nie,’ sê ma na Colin se verdrinking

Vandag, 20 Oktober, word daar ook tydens 'n troosdiens afskeid geneem van wyle mnr. Johann Griessel by die DP de Villiersstadion in Sasolburg

Berig soos gepubilseer in Vaalweekblad van 13 Oktober 2023

SASOLBURG. – “Toe Colin my groet voordat hulle see toe is, het ek gevra hy moet my bietjie langer vashou want sy drukkie moet ‘n week hou. Ek het nooit gedink daardie drukkie sal my ‘n leeftyd moet hou nie. Ons verlang na hom. Ons mis hom. Ons kan nie ophou huil nie.”
So sê mev. Jenny Schreuder van Sasolburg, wie se jongste seun, Colin (34), op 3 Oktober saam met sy verloofde se pa, mnr. Johann Griessel, aan die Suidkus van KwaZulu-Natal verdrink het.

Vaalweekblad het verlede week berig dat Colin en sy kinders saam met die Griessels vakansie gehou het toe sy verloofde, Jenney Griessel, en haar pa die Dinsdagmiddag deur ‘n seestroom by uMzumbe Beach meegesleur is.
Colin, wat op die strand was, het dadelik ingespring om hulle te gaan help. Jenney kon uitkom maar Colin en mnr. Griessel is sowat ‘n kilometer verder deur die sleurstroom ingetrek. Hoewel lewensredders albei mans gou gevind en in ‘n bewustelose toestand strand toe gebring het, was dit te laat om hul lewens te red.

Mev. Jenny Schreuder se nagmerrie het die middag begin toe Colin se 9-jarige seun, Grant, haar angsbevange van hul strandhuis af bel om te sê sy pa en mnr. Griessel is in die moeilikheid. Terwyl die reddingspoging aan die gang was, moes Jenny magteloos in Sasolburg wag op nuus. Na wat soos ‘n ewigheid gevoel het, het sy by mnr. Griessel se vrou, Charissa, die skoktyding gekry dat albei mans gesterf het.

Collin, Jenney en die kinders tydens hul vakansie by die see.

Jenny het deurnag saam met haar seun Ryno, sowel as Stephan, die stiefpa van Colin se twee oudste kinders, vanaf Sasolburg see toe gery om hulle te gaan bystaan en huis toe te bring.
“Colin en Jenney se vierjarige seuntjie Ajay is dalk nog te klein om mooi te verstaan dat sy pappa en oupa vir altyd weg is, maar Grant en sy agtjarige sussie Linica se harte is gebreek. Colin was hulle lewe, hulle superhero-pappa. Hulle het die hele pad terug Sasolburg toe gehuil en vrae gevra waarvoor ons nie antwoorde het nie. Ek kon hulle maar net vashou en saam met hulle huil. Hulle is erg getraumatiseer en berading is dadelik vir hulle gereël. Ons kan nog nie glo Colin se groot liefde vir die see sou hom eendag van ons af wegvat nie,” sê ‘n gebroke Jenny.

Colin, wat op 6 Januarie 1989 gebore is, het in Sasolburg grootgeword en aan die Afrikaanse Hoërskool Sasolburg skoolgegaan. Hy het in ‘n tegniese rigting studeer en was die afgelope jare as dieselwerktuigkundige aan Sasol Sigma verbonde.

Wyle Colin Schreuder.

“Hy was so vol energie, sportief, vol liefde en lewe. Hy was die gees van enige kuier. Sy lewe het hoofsaaklik om sy kinders gedraai. Hy het voluit gelewe en as ‘n held gesterf maar ons sou dit verkies het om hom eerder net terug te hê. Ons harte is in duisende stukkies,” sê Jenny.
Dit is die tweede keer dat Jenny en haar man Johan ‘n seun aan die dood afstaan. Hul seun Wayne is vyf jaar gelede aan ‘n seldsame siekte oorlede en die ouerpaar verwerk dit steeds moeilik. Met Colin se dood het hul smart nou verdubbel.
“Vir ons as Schreuder-gesin voel hierdie trauma en verlies nog te groot om te verwerk,” sê Jenny.
Colin se gedenkdiens is Saterdag, 14 Oktober, by die Evangelies-Gereformeerde Kerk in Dal Josephatstraat, Sasolburg, gehou.

WYLE MNR. JOHANN GRIESSEL, WAT SAAM MET COLIN GESTERF HET,  SE GEDENKDIENS WORD VANDAG (20 Oktober) OM 11:00 BY DIE DP DE VILLIERSSTADION IN SASOLBURG GEHOU

 

Me. Marlene Enslin, ‘n vriendin van die Griessel-gesin, het hierdie hartroerende groetboodskap oor wyle mnr. Johann Griessel, wat ‘n stigterslid en voorsitter van die CPF Sasolburg was, geskryf:

My liefste oom Johann Griessel… Waar sal ek hierdie groetbrief begin skrywe… Die onwerklikheid hang steeds oor my kop want ek het geleer die enigste tyd wat jy nie agter my staan nie, is waneer jy vakansie hou in die bos of by die see… En daai tye het ek bloot geweet jy kom oor ‘n paar dae terug en dan is ek oudergewoonte weer in die sop oor iets of iemand.
Die keer is dit anders. Daar sal nooit weer ‘n voice note wees of ‘n oproep of ‘n radio-roep nie. Ek het te gewoond geraak aan “help Charissa met dit, dat of so…, Respond gou vir my of gaan kyk gou vir my… ”

Dan was daar die tye wat ek jou naam verdedig het met alles in my, selfs vriende en kennisse weggewys het oor hulle jou nie wou sien soos ek jou hart geken het nie.
Ek sou letterlik ‘n bullet vir jou gevat het… Het jou rug gehad met elke asem wat ek geneem het.. Jy was nie net my direkte hoof nie maar jy was my familie wat ek langs my pad gekry het en aanvaar het as my eie. As jy kwaai was het ek weke lank gesit en huil by Charissa en dan maar weer nog ‘n keer probeer om jou bo alles te plaas.

Jou woorde as ek wou bedank by die CPF sal my seker ‘n leeftyd by bly… Nooit sal ek kan vergeet hoe lekker jy altyd vir my kon lag en hoe ek baie keer aspris woorde sou spreek dat jy net moes lekker giggel nie.

Jou liefde vir jou gesin, al was dinge nie altyd maklik nie, was nog altyd vir my die mooiste ding van jou menswees. Jou liefde vir die CPF en die lede was iets wat my harder laat werk en saam met jou laat bou het daaraan. Jy was beslis op baie gebiede vir my ‘n inspirasie. My alles het en sal ek gee om dit steeds te bou want jy het my geleer alles is genoeg.
Dankie vir die ontelbare geleenthede wat oom vir my geskep het om iets in ander se lewens te wees. Die geleentheid om die gemeenskap by te staan, te help en vir die groter prentjie te kan baklei. Dankie vir die saam lag… huil en al die onvergeetlike mooi oomblikke wat diep in my hart gegraveer is, wat ek elke sekonde sal bewaar en as ek kon, sou ek dit alles weer gedoen het. Dankie dat oom my deel gemaak het van oom se huishouding, gesin en familie en my en die kinders altyd as deel van oom gesien het.

Die diep gesprekke oor die lewe en die gesprekke oor hoe om sekere dinge nie net in ons werk maar ook in ons lewe te hanteer. Die inloer of die vinnige draai maak wanneer dinge in my lewe deurmekaar was en die regstelling van die kinders se gedrag en die bydrae tot hul lewens en wat hulle word. Daar is berge vol om voor dankie te sê.
Ek het jou hart leer ken en jou leer liefhê met absolute tonne respek. Ek het ure gesit en jou bestudeer om jou te kan verstaan en later geweet presies hoe jy sou reageer op enige situasie. As ek jou nou moes bel en sê, oom het oom gehoor 2 ouens het in die seestroom verdrink, en die storie moes vertel, sou jou antwoord dadelik gewees het “O SHIT” en ek kan jou gesigsuitdrukking in my geestesoog sien.

Dankie dat oom die rede is dat ek ‘n beste vriendin het.. Vir wie ek enige dag enige iets sal gee of doen.
Johann Griessel, ek groet jou vandag met ‘n baie seer hart; een wat nooit weer sal kan herstel van hierdie gebeurtenis nie; wat ‘n leeftyd sal onthou wie en wat jy was. Mag jy in vrede rus en elke dag op ons neerkyk en giggel oor al die foute wat ons van hier af sonder jou gaan maak. Ons sal ons beste probeer om dit wat jy ons geleer het te doen, maar ek sien al klaar hoe trip ons elke dag.
Aan my liefste vriendin en die kinders en kleinkinders… My en my gesin se innige simpatie. Johann laat ‘n groot leemte wat nooit weer gevul kan word nie. Julle is in ons gebede en ons is ‘n oproep weg vir enige iets wat julle benodig.
RIV Johann Griessel

Wyle Johann Griessel

Wyle Johann Griessel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button