Local newsNewsNews

‘Van die mense was onder die boot vasgekeer’

'n Plaaslike inwoner wat reeds 30 jaar ervaring op die Vaalrivier en met bote het, was gister eerste op die toneel om hulp te probeer verleen tydens die boot-tragedie. Hy vertel meer oor die gebeure.

VEREENIGING. – “Met my aankoms by die noodsituasie op die Vaalrivier het ek drie mense en ‘n kind bo-op die omgekeerde boot gevind. Daar het twee ander mense in die water gedryf. Hulle het reddingsbaadjies aan gehad, maar hulle koppe was onder die water.”

So vertel ‘n plaaslike inwoner wat reeds 30 jaar ervaring op die Vaalrivier en met bote het. Hy het verkies om anoniem te bly.

Hy het in ‘n onderhoud met Vaalweekblad vertel dat hy omstreeks 16:30 Saterdag (21 Oktober) ‘n oproep ontvang het dat daar ‘n noodsituasie op die rivier was.

Hy woon langs die rivier en het dadelik sy eie reddingsbaadjie aangetrek, twee ekstra gevat en met sy jetski na die toneel gehaas.

Dit het hom sowat vyf minute geneem om die toneel te bereik. Die ongeluk het sowat 600m van die Sam Gross Jetty in Drie Riviere gebeur.

Met sy aankoms het hy gemerk dat die mense wat kop onder water op die rivier gedryf het, wel reddingsbaadjies aan gehad het, maar dat dit nie behoorlik vasgemaak was nie. “Die baadjies het soos Batman se cape agter hulle gedryf”.

Die mense wat bo-op die boot vasgekeer was (3 volwassenes en ‘n peuter) het nie reddingsbaadjies aan gehad nie. Die boot was sowat 5 tot 6 meter van die kant, maar die rivier is daar reeds diep.

Hy het dadelik ‘n vrou wat in die water gedryf het na die kant geneem, en daarna die ander persoon. Daarna het hy die peuter na die wal geneem, en toe die boot met die ander nog daarop, na die wal gesleep.

Tussen al die histerie het dit aan die lig gekom dat daar nog mense  op die boot was toe dit omgekeer het. Hy het besef dat daar nog mense onder die boot vasgekeer was.

Nog helpers het intussen opgedaag, maar die boot was te swaar om in die water om te keer. Dit is nie ‘n baie groot boot nie, ‘n “16 voet” boot, wat glo geskik is vir so ses mense op ‘n slag.

Die weldoener het toe onder water, onder die boot rondgevoel. Hy het uiteindelik na nog drie minute se soek ‘n reddingsbaadjie gevoel. Dit was ‘n peuter van sowat 2 jaar.

Die man het vir sowat vyf minute kardiopulmonêre resussitasie (kpr) op die peuter toegepas, maar sonder sukses.

Intussen is nog mense onder die boot uitgehaal, maar hulle kon ook nie gered word nie. Net die vrou wat eerste deur die weldoener uit die water gered was, kon deur middel van kpr gered word.

CERT SA se noodreddingreaksiespan se verslag lui: “Vier mense is op die toneel dood verklaar. Ses ander pasiënte is op die toneel behandel, maar het geweier om na die hospitaal geneem te word.”

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button