Gibbs nog onder sedasie, maar stabiel
Goeie nuus: Dit gaan al baie beter met jong Gibbs na die ongeluk Vrydagoggend
VANDERBIJLPARK. – Gerhard Gerber en Armand van Gent, matriekleerlinge aan die Hoërskool Driehoek, was Vrydagoggend, 20 Oktober in ʼn motorongeluk in Rossini-boulevard betrokke.
Beide seuns is ernstig beseer. Armand is na ʼn plaaslike hospitaal geneem, terwyl Gerhard (Gibbs) per helikopter na ʼn hospitaal in Alberton vervoer is.
Gibbs se pa, Gerhard Gerber (sr) het Maandagoggend telefonies bevestig dat dit goed gaan met Gerhard onder omstandighede.
Hy word steeds onder sedasie gehou, maar is gestabiliseer. Vrydag het hy nog kwaai swelling op sy brein gehad, maar dit het reeds aansienlik verminder.
Gibbs is buite gevaar en behoort nog in die week ʼn operasie te ondergaan om sy gebreekte been te heg.
Na wat verneem word is Armand reeds ontslaan en sterk hy by die huis aan.
Die ongeluk het omstreeks 11:00 plaasgevind nadat die seuns hul laaste skooldag diens en klokseremonie bygewoon het.
Vaalweekblad hoop om Vrydag ‘n meer volledige berig in die koerant te plaas wanneer meer inligting oor hul vordering beskikbaar is.
