Local newsNewsNews

Onderwys haar taal, drama haar kos

Maak nader kennis met Magda van Tonder wat vir jare Engels by Hoërskool Vanderbijlpark gegee het. Lees meer...

VANDERBIJLPARK. – Voormalige Engelse onderwyseres by HS Vanderbijlpark, mev. Magda van Tonder, het onlangs 70 geword, maar is besiger as ooit. “Ek is nou vyf jaar op pensioen, en ek kry steeds nie tyd om te lees nie,” lag sy.

Daarvoor hou die kleinkinders en hul skoolwerk haar te besig. Van ouetehuis toe gaan wil sy niks weet nie.

Die Bijlers het gereeld personeelkonserte gehou. Hier is Magda saam met Willem Botha, die huidige hoof van LS D.F Malherbe.

“Van my vorige kollegas het al gevra wanneer kom kry ons ook ‘n plekkie by hulle in Herfsoord, maar daar is nie ‘n manier nie. Hulle sal my baie vinnig uitgooi”, beduie sy.

Magda werk gereeld in die tuin en dan speel sy die musiek baie hard. Enige iets van Gospel Rock tot die treffers van die 60s. Sy en haar man Danny en hul worshond, Chippy woon in die huis waar Magda grootgeword het. Hulle is in 1993 getroud.

“Hy is my sielsgenoot en hy kan lekker kosmaak,” vertel Magda wat self eerder verkies om te bak as om te kook.

Magda saam met twee voormalige Bijleronderwysers, Werner Holtzhausen en Marius Martins tydens ‘n pretdag by die skool lank gelede.

Sy was destyds in Laerskool Oospark en later in Vanderbijlhoër voordat sy aan die voormalige PU vir CHO gaan swot het.

“My jare op die PUK was van my beste jare. Ons het drama by Franz Marx gekry en hy het die dramastudente gereeld gevat om uitvoerings en flieks in Pretoria te gaan kyk. Mense soos At Botha en Elizabeth Archer was derdejaars toe ek ‘n eerstejaar was.”

Met haar studies agter die rug, het Magda gaan onderwys gee. Van HS Dr. Malan tot by Middelburg en uiteindelik HS Bergsig in Rustenburg. Soos die lewe maar is, het daar op haar pad ook seer draaie gekom.

Na haar egskeiding in die 1980s was Magda en haar dogter, Minette weer tuis by haar ouers in Vanderbijlpark. Hierna het dinge weer in plek geval.

Na ‘n besoek aan Vanderbijlhoër is sy onverwags ‘n pos aangebied deur die voormalige hoof, mnr. PW Pieterse (sr). In 1988 het sy haar by die Bijlerpersoneelkorps aangesluit.

“Ek was altyd maar bietjie die vreemde een. ‘n Drama queen, maar hulle het my aanvaar soos ek is. Waar ek ook al skoolgehou het, het hulle vinnig besef, dit gaan nie help hulle gee my ‘n sportspan om af te rig nie,” lag sy lekker.

Die kultuurdinge was haar kos, van drama tot by redenaars. Van die laat 80s tot in die vroeë 2000s het Magda menige toneelstukke by die skool afgerig, in Afrikaans en in Engels en vele van hulle het met die ATKV Direkteurstrofee vir Toneel huis toe gekom.

Oudleerlinge onthou haar as die een wat lewe in die rooitaal geblaas het. Om dinge verstaanbaar te maak, het sy altyd ‘n versie of bewegings gehad wat uitgevoer moes word sodat almal dit kan onthou. Natuurlik was daar party dae sommer mini-opvoerings van Macbeth in die klas.

“Ek het dit geniet om klas te gee, en sal dit enige tyd weer doen, maar weet jy, ek wou eintlik ‘n Rock of Rap sanger geword het,” verklaar sy ernstig, maar met ‘n duisend lagsterretjies wat in haar oë skitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button