Local newsNews

Vegters deel hul ervarings na borskankerdiagnose

Oktober is Borskankerbewusmakingsmaand. Om ander vroue te help, deel Vaalweekbladlesers wat reeds hul kankerpad begin stap het of dit suksesvol voltooi het, hul ervarings hier.

Elke vrou vrees die dag as daar ‘n knoppie in haar bors opduik, maar onthou, vroeë opsporing van borskanker maak die kans op oorlewing soveel groter. Doen maandeliks jou selfondersoek en gaan jaarliks vir ‘n mammogram. Hier onder deel ‘n paar vroue wat die skokdiagnose van borskanker ontvang het, hul ervarings:

Rina Hartzer van die Vaaldriehoek laat weet:
Mens hoor net van die dinge… tot dit voor jou deur stop. Albei my borste is 5 September verwyder. Ek is nog besig met die herstelproses😞🙌🏻. Gaan nou enige tyd met bestraling begin. Dis nie ‘n maklike pad nie maar die Here se genade is groot. 🙌🏻🙌🏻 Gelukkig het ek ‘n goeie ondersteuningsnetwerk met my kerk, familie en vriende. En ek is dankbaar dat ek goeie medies het. Ek kry vroue sonder dit baie jammer want dis nie ‘n maklike reis nie.😞 Baie liefde vir almal wat die reis aangepak het – pas julle mooi op.🌺❤️🥰

  • RINA, VAALWEEKBLAD EN AL ONS LESERS DINK AAN JOU EN BID VIR JOU VOLKOME GENESING. BAIE STERKTE MET ELKE TREE VAN JOU REIS! ❤️
Rina Hartzer het pas haar kankerreis aangepak.

*************************************************************************************

Gelowige Vegter van die Vaaldriehoek skryf (onveranderd):
In 2022 Mei is ek gediagnoseer met Stage 2 borskanker. Ek het my chemo gehad en is geopereer – en vandag is ek in remissie. Ek is ‘n kanker survivor.

Op ‘n dag het ek ‘n knoppie gevoel in my linkerbors en besef iets is nie reg nie. Ek het ‘n afspraak gemaak by die kliniek en die suster het my ondersoek Sy het vir my ‘n afspraak gemaak by dokter, wat my ondersoek en my gestuur het vir ‘n sonar omdat ek onder 40 jaar oud was. Die dokter kon nie mooi sien op die sonar nie en stuur my vir ‘n mammogram. Biopsies is toe ook gedoen.
Die dokter het my gebel en gevra ek moet inkom – hulle het my uitslae gekry. Die dokter het aan my verduidelik ek het borskanker en wat die pad vorentoe vir my inhou.
Ek het eers 8 chemo-sessies gehad en toe die dubbele mastektomie (albei borste afgesit). Vandag se behandeling wat jy kry is draagsaam want hulle gee vir jou medikasie wat die newe-effekte bietjie ligter maak, maar nog altyd is die “rooi duiwel chemo” die ergste. Hy maak jou siek en jou liggaam is nog steeds in pyn en jy bly moeg, maar jy moet altyd vashou in jou geloof en bid en jou mindset moet reg wees want dit kan jou maak of breek.

Niemand se kanker is dieselfde nie – almal is anders en hanteer dit anders. Onthou net, kanker is nie ‘n doodsvonnis nie. Daar is hoop en jy kan kanker oorwin, maak nie saak wat se kanker jy het of in watter stage jy is nie. GEEN DOKTER kan bepaal wanneer dit jou tyd is nie – net God bepaal dit.

My ervaring met die operasie: Dis stresvol voor jy ingaan teater toe maar dan vra jy weer eens vir God vir kalmte en krag en dat Hy Sy hand oor jou hou. Geloof speel die grootste rol in jou journey. Sodra jy die operasie gekry het en jy besef jou borste is af, begin die realiteit inskop, maar jy troos jouself daaraan jy het jou borste verloor maar ‘n 2de kans gekry op lewe. Maak die beste daarvan. Jy sien die lewe anders, jy waardeer die klein dingetjies in die lewe meer en koester die mense om jou meer. Jy verstaan dinge van die lewe meer en jy kan ander help in dieselfde situasies want jy weet hoe die persoon voel. Jy gee meer liefde en gee meer om en is meer opreg want jy het dood in die oë gestaar.

My raad aan ander met borskanker is: lewe voluit, sny negatiewe mense uit jou lewe uit want dit maak jou sieker. Moenie voel jou lewe is verby nie want jy kan kanker oorwin met geloof, goeie ondersteuning en ‘n positiewe mindset – en natuurlik goeie medisiese hulp. MOENIE te lank in jou bed lê nie. Staan na die derde dag op en beweeg bietjie. Praat met ‘n sielkundige as dit nodig is. Vra jou dokters vrae oor alles – niks is te klein of onbenullig nie – en praat met mense wat daardeur is. Vra vir hulle vrae sodat jy weet wat om te verwag. Hou vas aan jou God want niks is ontmoontlik by Hom nie. Die pad wat jy moet stap is moeilik en nie lekker nie maar as jy anderkant uitkom en jy is in remissie, was alles die moeite werd.

Die hare wat jy verloor is nie lekker nie maar dit groei wel terug – mooier as ooit. Onthou jy is mooi, maak nie saak wat nie, en jy is ‘n wonderwerk. Moet nie jou lewensmaat uitsluit in enige iets nie. Maak hom/ haar deel van jou journey. En as jy kinders het, wees eerlik met hulle – maak nie saak hoe klein hulle is nie. Berei hulle voor vir wat voorlê.
Kontak CANSA se organisasies naby aan jou vir enige hulp wat jy nodig het!
Onthou jy is nooit alleen nie. Daar is altyd mense wat omgee. Wees sterk en veg met alles wat jy het.

 

*********************************************************************************************

Minette Stone skryf:
Dit is hierdie Oktober al 15 jaar gelede sedert ek gediagnoseer was… en my behandeling het 2 en ‘n halwe jaar in totaal geduur. Die tyd gaan so vinnig verby! Maar die herinnering daaraan bly vars in my geheue. Ek het in daardie periode in my lewe in die Sarie-tydskrif geblog om my ervaring met ander vrouens te deel. Omdat ek ‘n persoon is wat makliker dinge verwerk as ek weet wat voorlê, was dit vir my baie frustrerend om nie genoeg inligting te kon opspoor wat nie in mediese terme geskryf was nie… en sielkundig het skryf my gehelp om dit te verwerk.🌸
Lees gerus Minette se blog en dagboek uit haar behandelingstydperk by hierdie skakel. (Begin lees van heel onder na bo): https://www.netwerk24.com/sarie/Argief/daars-n-knop-in-my-bors-wat-nou-sariecom-blogger-vertel-20170914

BAIE STERKTE AAN ALMAL WAT TANS BEHANDELING ONTVANG. VAALWEEKBLAD VERTEL LATER DIE WEEK VAN NOG VROUE WAT BORSKANKER OORWIN HET.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button