‘n Heildronk op 99 somers!
Amper 'n volle eeu oud vandag. Veels geluk Tannie Magriet!
VANDERBIJLPARK. – Tannie Magriet Wolmarans is vandag (24 Oktober) 99. Die groot okkasie is behoorlik by die Siësta Versorgingsoord in Herfsoord gevier.
Die verjaardagdame het vroegoggend al die verpleegsters aan die lag gehad toe hul haar mooimaak vir die groot okkasie.
Een verpleegster het vir haar gesê sy lyk soos Miss World, waarop sy geantwoord het: “Miss World kan nie met my kompeteer nie.”
Haar blou oë vonkel nog vrolik en die jare het geensins aan haar skerp sin vir humor geskaaf nie.

Haar seun, Wollie, sy vrou Valda en skoonmoeder, Kobie Müller, het saam met Tannie Magriet se skoonseun Cobus en sy vrou, Yvonne en haar kleinseun, Niël Reinecke van heinde en ver gereis om die spesiale dag te vier.
Tannie Magriet het in die Vrystaat grootgeword en het op ʼn stadium in Kroonstad gebly alvorens sy en haar man, Frikkie eers na Boksburg en toe na Sasolburg verhuis het.
Frikkie het tot met sy aftrede in 1989 vir SASOL gewerk waarna die egpaar hul in Herfsoord gevestig het.
Die egpaar het ʼn seun en ʼn dogter gehad. Hul dogter, Elize is in 2015 oorlede. Tans het Tannie Magriet ses kleinkinders en 14 agterkleinkinders.
Haar seun, Wollie sê sy ma was nog altyd ʼn vrou van formaat. “Sy was altyd hardwerkend en liefdevol. ʼn Ystervrou. Sy is steeds ʼn voorbeeld vir baie.”
