Te veel smart vir een ma
Celeste is ma van wyle Renier Stols wat op 30 September in 'n motorfietsongeluk gesterf het.
VEREENIGING. – “As die hartseer en verlange te veel word, dan kom sit ek hier in die hoek. Hier waar daar foto’s en herdenkings van hulle is, en ek praat met hulle.”
Dit is hoe Celeste Cilliers (61) die moeilike dae hanteer na sy reeds twee seuns, ‘n kleinkind en haar moeder aan die dood moes afstaan.
Haar oudste seun Renier Stols, wat op 30 September in ‘n motorfietsongeluk gesterf het, was bekend en baie geliefd in die Vaal.
“Renier kon dalk vir mense wat hom nie geken het nie intimiderend voorgekom het met sy groot bo-arms en tatoes, maar hy was maar net my teddie beer. Hy het so ‘n goeie hart gehad,” sê Celeste.

Sy vertel met deernis hoe hy haar so trots gemaak het in sy matriekjaar as onderhoofseun van die HS Dr. Malan.
“Ons moes ongelukkig in sy matriekjaar Fochville toe verhuis, maar Renier het gesê hy wil sy matriekjaar aan HS Dr. Malan voltooi.
“Hy het by sy beste vriend se ouerhuis gebly in die tydperk en naweke as ek hom gaan haal het, het hy elke keer sommer ‘n klomp maats saam gebring,” vertel Celeste.
Selfs as volwasse man het hy darem steeds tyd gemaak om by sy ouers te kom inloer. Hy het uit sy eie as agtjarige gekies om sy stiefpa (Abraham ook bekend as Apie) “pa” te noem, Celeste en Abraham het nog drie kinders. Braam, Abigail en Bertie.
Laasgenoemde is op 19-jarige ouderdom reg voor hul huis (die gesin het hulle weer in die Vaal kom vestig) op die R42 in die rigting van Heidelberg oorlede.
Bertie en sy vriend/kollega was op 4 Oktober 2019 in slegte weersomstandighede onderweg na Bertie se ouerhuis, toe Bertie beheer oor die voertuig verloor het. Bertie is op slag dood en sy vriend het vier dae later in die hospitaal aan sy beserings beswyk.
Dit was net die begin van Celeste hartseer en beproewing. Haar kleinkind Reane het in 2020 in ‘n motorongeluk gesterf. Sy was Renier se dogtertjie uit ‘n vorige verhouding.
Verlede jaar op 15 Oktober het kanker ook die lewe van haar geliefde moeder, Carrol Abrahams (88), geëis.

Om sake nog erger te maak het haar man Apie, vanjaar in April twee hartaanvalle gehad en by die dood omgedraai. Hulle lewe steeds in vrees oor sy gesondheid want hy het ‘n baie lae persentasie hartfunksie oor.
“Ek moet erken ek vind dit nou soms moeilik om te bid. Renier se begrafnis was vir my bitter swaar. Ek vra myself baie keer, hoekom moet ek al die hartseer deurgaan,” sê Celeste.
Maar sy het tot dusver deurgedruk en probeer maar op haar oorblywende gesin fokus. En dan is daar natuurlik die gedenkhoekie.

