Local newsNews

Haelbui se vernielspoor in die Vaal

Hoewel hael in verskeie dele van die Vaaldriehoek geval het, is Vereeniging die ergste getref

Soos berig in Vaalweekblad se papieruitgawe van 20 Oktober 2023

VEREENIGING. – Na die afgelope weke se droë weerstoestande in die Vaaldriehoek het die gebied die naweek van 14 en 15 Oktober goeie reën van tussen 20 en 28 mm gekry.
Saterdag, 14 Oktober, se deurdringende, ligte reën is wyd verwelkom, maar die Sondagaand se hewige storm en gepaardgaande hael het plek-plek baie skade aangerig.

Hoewel hael in verskeie dele van die Vaaldriehoek geval het, het Vereeniging en omliggende woongebiede veral deurgeloop.
Die plafon van ‘n paar vertrekke in die Catherine Robson Kinderhuis het ingeval en verskeie tuine in die stad is verniel.

Foto’s bo en onder: Die haelskade by Catherine Robson Kinderhuis in Vereeniging.

Hester van Straaten van Sonlandpark sê haar grasperk was die Maandagoggend besaai met jong vruggies, blare en takke. Die hael het haar kinderswembad vol gate geslaan en een van die huis se ruite is ook gebreek. Minnette Coetzee van Unitaspark en Monique Lendrum van Redan het laat weet dat hulle ook heelwat skade in hul tuine het.

Rina Van Niekerk van Vereeniging sê sy wou sommer huil oor haar verwoeste tuin. “Dit het so mooi gelyk met alles wat in blom was. En toe kom die hael. My amarillas is weggeslaan… baie hartseer,” sê sy.

Die straat voor Nico Holtzkamp se huis in Arconpark was die Maandagoggend nog besaai met blare en takke na die vorige aand se haelstorm.

Lesers het op Facebook gerapporteer dat hulle na die haelbui heelwat dooie voëlkuikens en vernietigde voëlnessies op die grond in hul tuine gevind het. Lede van South African Wildlife Rehabilitation moes sedert die Sondagaand bontstaan om beseerde voëls wat deur die wind en weer verniel is, te versorg. Martie Nortjé, wat by die versorging van beseerde voëls betrokke is, sê heelwat voëls is ongelukkig dood.
“Skakel my asseblief by 082 772 6108, of vir Judy van South African Wildlife Rehabilitation by 073 112 1131 as julle beseerde voëls na ‘n storm gewaar,” versoek Martie.

OPDATERING op 25 Oktober: Die Vaaldriehoek beleef tans buitengewoon warm dae met temperature wat vandag in Midvaal, Vereeniging, Vanderbijlpark en Sasolburg tussen 31 en 34 grade wissel. SA Weather Service se voorspelling vir die volgende twee dae hou nog geen reën in nie, en temperature van tussen 33 en 37 word tot Vrydag vir Gautengse gebiede soos Pretoria, Johannesburg en die Vaaldriehoek voorspel. Daar is wel ‘n kans op reën teen die naweek.

Handevol hael! June Harmse het dié foto Sondagaand, 15 Oktober, in Arconpark, Vereeniging, geneem.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button