ELM-werkers veg teen brommers, wurms en duiwemis!
Hoewel Emfuleni kennis gegee het dat die personeel van die ou Trustbank-gebou hul kantore moet ontruim, weet hulle nog nie wanneer of waarheen hulle gaan skuif nie
VANDERBIJLPARK. – “Werknemers van die Emfuleni-munisipaliteit sit met hul hande in die hare oor hul onleefbare kantoorsituasie. Hulle sit letterlik ook met duiwemis in hul hare!”
Só sê die man van een van die vroulike werknemers wat in die ou Trustbank-gebou in Vanderbijlpark se sakesentrum werk. Die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit (ELM) het die vervalle gebou glo aanvanklik by die oorspronklike eienaar gehuur en dit later gekoop. Dit is egter nou so gehawend dat dit ernstige gesondheidsrisiko’s inhou.
Die gebou huisves verskeie munisipale afdelings soos Stadsbeplanning, Bouplanne, Behuising, Arbeid en Menslike hulpbronne. Tans is daar meer as 100 ELM-personeellede wat in die gebou werk.
“Min mense weet in watter afgryslike toestande hierdie amptenare werk. Die personeellede wil nie kla nie want hulle wil nie hul werk verloor nie maar dis nou tyd dat iemand die probleem onder Emfuleni se aandag bring. Ek is regtig baie bekommerd oor my vrou se gesondheid,” sê die man, wat versoek het om nie geïdentifiseeer te word nie.
“Wanneer dit reën, stroom water deur die plafonne en teen die mure af. Dokumente soos bouplanne word gereeld sopnat. Heelwat van die plafonne op die eerste vloer het al weens die waterskade ingestort. Daar is gereeld duiwemis op die lessenaars en in die werknemers se hare soos dit deur die stukkende plafonne neersif. Daar is soveel muf en stank in die gebou dat baie van die personeel chronies siek en depressief is. Sommige van die kantore is vervuil van brommers en wurms,” sê die man.
Van die plafonne en dakplate buite die gebou hang net op genade. ‘n Stuk daarvan het onlangs tydens ‘n rukwind afgewaai en tussen twee voertuie op die grond beland. As dit ‘n voetganger getref het, kon dit noodlottige gevolge hê.
Die aanslag op die gehawende gebou kom nie net van die natuur af nie. Ongemanierde mense dra verder tot die onuithoudbare omstandighede by. Besoekers kom drink glo gereeld alkohol by die kuierplek oorkant die gebou en urineer dan sommer openlik teen ELM se buitemure.
“Op warm dae vrot dit so dat die Emfuleni-personeel nie in hul kantore kan leef nie. Emfuleni mag die personeel en lede van die publiek wat die kantore moet besoek, nie langer aan sulke gevaarlike omstandighede blootstel nie,” sê Vaalweekblad se bron.
Hoewel Emfuleni kennis gegee het dat die personeel van die ou Trustbank-gebou hul kantore moet ontruim, weet hulle nog nie wanneer of waarheen hulle gaan skuif nie. ‘n Groot uitdaging is dat dekades se dokumentasie, soos byvoorbeeld die bouplanne, saam met hulle na nuwe kantore sal moet trek.
DA-raadslid Maureen Dosoudil van Emfuleni se Wyk 5 sê sy is lankal uiters besorgd oor munisipale werkers in die ou Trustbank-gebou sowel as dié in die nabygeleë OK-gebou. Laasgenoemde gebou is in net so ‘n gehawende toestand. Sover Vaalweekblad kon vasstel, huur ELM die OK-gebou teen R1.2 miljoen per maand, maar dit blyk dat nie ELM óf die verhuurder enige onderhoud in of om die gebou doen nie. Raadslid Dosoudil het reeds in Julie verlede jaar amptelik vrae oor die toekoms van die personeel in die twee siek geboue aan die munisipale bestuurder gevra, maar na ‘n jaar nog geen antwoorde gekry nie.
* Vaalweekblad het ELM en die Emfuleni-fasiliteitsbestuurder se kommentaar oor die geboue en die beplande verskuiwing van die betrokke personeel aangevra maar teen saktyd ook nog geen respons ontvang nie.

