Mirandi deur na Die Kontrak Top 5
Na 'n uitstekende vertoning Sondag, hou ons asem op vir hierdie naweek se Top 4 aankondiging.
VEREENIGING. – Mirandi, die Vaal se eie sangsensasie is deel van die Top 5 in Die Kontrak 3, ‘n musiekprogram wat weekliks op eTV Ekstra uitgesaai word.
Sondagaand het sy almal verras deur haar eie liedjie, Genade Wilde Sarie, met baie energie te sing.
Nie net het sy almal verras toe sy haar man, Chris in die middel van die liedjie nader geroep het vir ‘n paar langarm danspassies nie, sy het die lied met ‘n ‘split’ geëindig.
Die paneelkenners, waarvan Corlea Botha die gaskenner was, was dit eens dat Mirandi se vertoning uitstekend was. Daarmee het sy dan ook haar plek in die Top 5 verseker.
Een van haar aanhangers op Facebook, Christa Alberts, het dit mooi saamgevat: “Mirandi meisie, jy was fantasties. Geen kritiek van enige een van die paneel af nie, want hulle kon niks sê nie. Jy’t die wind uit hulle seile geneem.
“Daai ‘split’ meisie, dit was sowaar die cherrie op die koek. You go girl! Ek kon nie wag dat jy sing nie en weer eens was jy wonderlik.”
Oor Sondagaand het Mirandi gesê: “Ek weet my knieë is seer, spiere is sekerlik gone to the moon en ek is potblou, en die kenners se gesigte en Emo Adams se reaksie spreek boekdele van hulle verbasing! Ek het my alles gegee.”
Die Kontrak word Sondae om 18:00 op kanaal 195 DSTv en kanaal 105 OpenView uitgesaai.
Gaan like en deel Mirandi se video’s wat op Tiktok, Instagram (@mirandimorsner) en op die Facebookblad Die Kontrak beskikbaar is na elke week se episode.
