Kritieke tekort aan ingenieurs in SA
Hierdie tekort is een van die groot redes in die “verval” van infrastruktuur.

Die VF Plus het in ‘n mediaverklaring deur Fanie du Toit, VF Plus-LP in NRP (Noordwes) aangevoer dat dat Adj.pres. Paul Mashatile, nie bereid is om die waarheid te erken oor die tekort aan wit manlike ingenieurs in die land, of die skadelike gevolge daarvan wat hoofsaaklik te wyte is aan transformasie in die tegniese bedryf nie.
Die VF Plus het Adj.pres. Mashatile gewys op die laaste infrastruktuur-verslag (2022) van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Siviele Ingenieurswese (Saice) waarin die kritieke tekort aan ingenieursvaardighede beklemtoon word.
Die verslag noem dat hierdie tekort een van die groot redes is vir die “verval” van infrastruktuur en dat daar ʼn “kritieke tekort” aan ingenieursvaardighede in die openbare sektor is.
“Daar was ʼn groot uittog van veral wit, manlike ingenieurs uit die land in die laaste twintig jaar, ook vanuit die private sektor.
“In die openbare sektor is hierdie kundigheid grootliks vervang met swart en vroulike tegnoloë en tegnici terwyl ingenieurs toenemend minder geraak het”.
“Luidens die verslag is hierdie verlies aan kundigheid ook ʼn groot terugslag vir ʼn nuwe generasie wat die tegniese veld betree aangesien dit ʼn vakuum aan mentorskap geskep het.
“Die probleem het ook nie oornag ontstaan nie. Die instituut het tien jaar gelede al in ʼn ope brief by die regering van pres. Jacob Zuma “gepleit” om meer professionele ingenieurs in staatsdepartemente aan te stel.
“Adj.pres. Mashatile leef in totale ontkenning dat wit ingenieurs verdwyn tot ernstige nadeel van die land en al sy inwoners.
“Sy antwoord dat ʼn wit ingenieur aan hoof van sy departement was terwyl hy LUR vir vervoer in Gauteng was en dat “geen wit ingenieur” van die openbare sektor weggewys sal word nie, onderstreep dit.
“Hy het benadruk dat transformasie juis “versnel” moet word.
“Die realiteit is dat transformasie nie werk nie. Dit is verstommend dat die regering nie bereid is om te erken dat die land se infrastruktuur in duie stort weens ʼn gebrek aan kundigheid nie.
“Alle persone, ongeag ras of geslag, moet die geleentheid gegee word om op ʼn gelyke voet in dié professie mee te ding. Suid-Afrika kan nie langer ʼn regering bekostig wat die land laat verval ter wille van uitgediende ideologieë nie”.
