Local newsNews

Só het Belinda kanker geklop

"Maak dadelik werk daarvan as iets nie reg voel nie"

 

“Moenie wag tot dit te laat is nie. Vertrou jou ligaam om vir jou te sê as iets verkeerd is. Dit kan jou lewe red.”
Só sê Belinda Smith van Sasolburg, wat ses jaar gelede op die ouderdom van 29 met borskanker gediagnoseer is. Oktober is borskankerbewustheidsmaand, wat Belinda laat besluit het om haar ervaring met ander vroue te deel.
“Ek het in 2017 pas ma geword van ‘n pragtige dogtertjie en is dokter toe vir ‘n nageboorte-ondersoek. Ek het vreeslik gesukkel om te borsvoed en het opgehou, maar daar het steeds vog uit my bors gekom. My dokter het gereken dit is normaal en niks om oor te bekommer nie. Iets het steeds nie reg gevoel nie en ek is terug vir ‘n opvolgondersoek. Ek is vir ‘n mammogram verwys, wat ‘n knop van byna 8 cm uitgewys het. ‘n Biopsie is dadelik gedoen en weggestuur.”

‘n Week later, op 19 Oktober 2017, het Belinda die skoknuus gekry: “Dit was fase 3 borskanker wat toe reeds na sekere van my limfkliere versprei het. Dit het gevoel of my hele lewe in duie stort. Daar het soveel emosies en vrees deur my kop gemaal. Ek is na die Vereenigingse onkoloog, dr. Daniel Rens, verwys, waar verdere toetse getoon het dat dit ‘n uiters aggressiewe kanker was. Dr. Rens het twee opsies vir my gegee: Met Opsie 1 sou hulle my eers behandel en sien hoe alles reageer, maar daar was geen waarborge nie. Opsie 2 was om so vinnig moontlik te opereer en ‘n mastektomie te doen. Met die wete dat my kind vir my wag, het ek sonder huiwering Opsie 2 gekies. Ek is na dr. Snyman by Emfuleni Mediclinic verwys, wat eerlik vir my gesê het die prognose lyk nie goed nie maar hy gaan sy beste gee.”

Op 7 November 2017 is Belinda se mastektomie gedoen en later die aand het die dokter “goeie nuus” in die omstandighede gebring: Die knop se afmetings was toe slegs 5cm en van die 5 kliere wat hulle vermoed het aangetas is, was sleg 3 mikroskopies aangetas. Dit het haar prognose al klaar baie beter gemaak.
“Ek het daarna met my chemobehandeling van 6 maande begin, wat my ongelooflik sleg laat voel het. Daarna het 40 sessies bestraling gevolg. Ek het deur al my behandelings my kop positief gehou en nie gaan rus nie. Ek het steeds gaan werk en aangepas by my ‘nuwe normaal’.

“Dit is hierdie maand presies 6 jaar sedert my diagnose en ek gaan steeds elke 6 maande vir toetse en opvolgondersoeke. Nog elke keer is die nuus dat my kankertellings stabiel is. Ja, dit het letsels gelaat. Ja, dit verander mens se hele uitkyk op die lewe, maar dis nie ‘n doodsvonnis nie. Ek is vandag bevoorreg om my dogtertjie van 6 te sien grootword en my lewe te deel met my man, Danie. Hy het my nie een keer geoordeel oor hoe ek nou lyk nie. Ons het ‘n vol en gelukkige lewe.”
Belinda sê haar belangrikste raad aan vroue, jonk en oud, is om te gaan vir ‘n mammogram. “Maak dadelik werk daarvan as iets nie reg voel nie. Ouderdom is geen waarborg dat kanker nie oor jou pad gaan kom nie. Moenie wag tot dit te laat is nie. Elke dag tel vir lewe.”

Na haar behandelingsreis het sy dié advies vir vroue wat die kankerpad begin stap: “Maak staat op die mense om jou want ‘n ondersteuningsnetwerk is baie belangrik. Moenie bekommerd of bang wees dat mense jou gaan oordeel nie want dis jou pad en jy moet deur dit werk. Moenie bang wees om te gaan vir berading nie. Mense is nie klippe nie en glo my, dis nodig want so ‘n diagnose is traumaties. Daar is mense wat dáár wil wees om jou te help. Benut dit.”

Belinda Smith saam met haar man Danie en hul dogtertjie, Anzél (6).

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Check Also
Close
Back to top button