Local newsNewsNews

Armand is tuis, Gibbs op herstel pad na ongeluk

Goeie nuus - Gibbs is eersdaags tuis en dit gaan goed met Armand.

VANDERBIJLPARK. –  Dit gaan elke dag beter met Gibbs Gerber wat saam met Armand van Gent op 20 Oktober in ʼn motorongeluk was.

Sy pa, Gerhard Gerber het 30 Oktober gesê die dokters is tevrede met Gibbs se vordering.

As alles volgens plan verloop behoort hy 31 Oktober ontslaan te word. Hy sal dan die lang pad na herstel by die huis voortsit.

Armand van Gent. Die foto is enkele ure voor die ongeluk geneem. Foto’s verskaf

Gibbs het ʼn fraktuur in sy been opgedoen wat verlede week tydens ʼn operasie geheg is.

Hy het ook erge breinswelling ervaar na die ongeluk, maar die swelling het gelukkig gesak.

Gerhard sê dit gaan ʼn tyd neem voordat Gibbs heeltemal herstel het. “Hy praat nog stadig en vergeet soms goed,” maar die dokters is tevrede.

Vrydag, 20 Oktober het op ʼn feestelike noot vir die matriekleerlinge van die Hoërskool Driehoek begin.

Dit was hul laaste amptelike skooldag en die dag is afgeskop met ʼn erediens en klokseremonie by die skool. Die matrieks en hul ouers was opgewonde, boodskappe van voorspoed is op skoolklere geskryf.

Slegs ure later het die ontstellende nuus van die ongeluk in Rossini-boulevard deurgekom.

Personeel van Vaal Emergency Care was eerste op die toneel. Marius Venter sê daar was gelukkig een van hul ambulanse in die omtrek en hul kon vinnig reageer.

Armand is op die toneel gestabiliseer en per ambulans na ʼn plaaslike hospitaal vervoer. Gibbs was in die motor vasgekeer en die brandweer is ontbied. Hy is uiteindelik per helikopter na ʼn hospitaal in Alberton geneem.

Armand se ma, Danielle het Woensdag, 25 Oktober bevestig dat Armand tuis is. Sy arm is steeds seer, maar gelukkig nie gebreek soos aanvanklik gedink is nie.

Hy het ʼn kopwond opgedoen waarvoor hy agt steke gekry het. “Ons is baie dankbaar vir al die gebede,” het sy laat weet.

Gibbs is die naweek van 20 Oktober onder sedasie gehou met swelling op sy brein. Die swelling het egter binne dae aansienlik gesak. Die dokters kon teen Dinsdagnag die operasie op sy been uitvoer.

Gerhard het almal bedank vir die oorweldigende ondersteuning wat hul kry.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button