Baie hartseer nuus: Gesin van vyf sterf in brand
Beraders van CMR en Helpende Hand sal binnekort met die inwoners begin werk omdat talle van hulle wat die brand aanskou het, erg getraumatiseer is.
Nuus van buite die Vaaldriehoek:
Dié voorval het gisteraand (29 Oktober) in die Madibeng Munisipaliteit wat die dorp Brits insluit, plaasgevind.
Elsa Lourens, ‘n VF Plus-raadslid van Brits (Madibeng Munisipaliteit) in die Noordwes-provinsie, laat weet dat ‘n brand by Purple Moss laasnag die lewe van ‘n jong gesin geëis het. Dit blyk dat mnr. JP Bingham, sy vrou Esmé (Labotski) en hul kinders Benjamin (8), Mianique (3) en Luané (2) almal in die brand omgekom het.
‘n Middeljarige man is vir rookinaseming behandel maar sover Vaalweekblad kon vasstel, is niemand anders ernstig beseer nie.
Die voorval het by Purple Moss tussen Brits en Hartbeespoortdam plaasgevind. Purple Moss is ‘n nie-winsgewende organisasie wat sedert 1 Mei 2009 aktief by die Brits-gemeenskap betrokke is deur geestelike en materiële ondersteuning aan behoeftiges te bied. Behuising word hier aan sowat 60 mense verskaf.
Esmé, wie se familie die plek begin het, het in die bestuur gedien en sowat 12 jaar op die perseel gewoon.
Volgens raadslid Lourens is die gemeenskap van die omgewing nog verslae na laasnag se gebeure.
“Ons weet nog nie hoe die brand ontstaan het nie. Die polisie se forensiese afdeling was al laasnag 3 uur hier om ondersoeke te begin doen. Ek is sprakeloos oor die ondersteuning wat uit die gemeenskap ontvang word. ‘n Onderneming het reeds 15 tente geskenk en inwoners van die omgewing het onderneem om tydelik verblyf aan van die inwoners van Purple Moss te verskaf. Die Soetdoring Geleentheidsfonds sal help met die begrafnisreëlings van JP, Esmé en die kinders,” sê raadslid Lourens.
Sy sê dit is vandag uiters koud en reënerig in die omgewing, wat bydra tot die swaarmoedige gevoel in die Madibeng-gebied.
Beraders van CMR en Helpende Hand sal binnekort met die inwoners begin werk omdat talle van hulle wat die brand aanskou het, erg getraumatiseer is.
Hier onder is raadslid Elsa Lourens se baie hartseer plasing van laat gisteraand (29 Oktober) op Facebook:
Dis met ‘n stukkende hart dat ek die pos maak.
Daar het ‘n brand vanaand uitgebreek by Purple Moss – ek het vir Esmé probeer skakel om te hoor of die brandweer al daar is. Haar foon het net bly doodgaan. Net daarna het Chrissie my laat weet dat Esmé, haar man en 3 kinders in hulle houthuis vasgekeer was.
Ons dra Esmé en haar gesin op aan God. Ons innige meegevoel aan Sonja en oom Bossie.
Dankie Hems, Brits Brandweer. Dankie Tinus de Bruin vir al jou hulp. Dankie Hannelie wat uitgery het om mense by te staan.
Baie van die houthuise het in die slag gebly en ons kort dringend komberse vir die wat alles verloor het. Tinus kyk wat hy vanaand kan doen want dit is koud en die mense is erg in skok.
Ek sal more oggend gou uitry na Purple Moss om te kyk watter hulp ons as gemeenskap kan bied.
As u kan help skakel my asb op 064 664 2060.
* Vaalweekblad se innige simpatie aan die familie, vriende en almal wat by Purple Moss betrokke is.

