Local newsNewsNews

Elke klein doppie maak ‘n groot verskil

Vaalpark Primêr se doppie-projek maak jaarliks 'n groot verskil. Lees meer...

VAALPARK. – Wanneer Vaalpark Primêr se leerders iets doen, doen hul dit met oorgawe. Dit het hul hierdie jaar weer met hul groot doppie-projek bewys.

Vir maande het die leerders hul familie en vriende aangespoor om doppies en broodknippe te versamel. Die groot dag was 11 Oktober. Sakke en sakke gevul met doppies en knippies het hul weg na die skoolsaal gevind.

Mieke Janse van Rensburg het 328,73 kg se doppies ingesamel. Foto’s: Gerda Bruinette

Nadat al die berekeninge gedoen is, het die totaal op 1 908,93 kg koeldrankdoppies en 27,36 kg broodknippies gestaan. Vaalpark Primêr loods reeds sedert 2017 jaarliks hierdie projek vir ‘n goeie doel.

Alles word vir die Sweetheart Foundation geskenk. Vir elke 450 kg doppies en 50 kg broodknippies wat herwin word, kan die Sweetheart Foundation ‘n rolstoel aan iemand in nood skenk.

Charmaine Kriek, die skool se skakelbeampte, sê die projek help nie net behoeftige mense nie, die kinders en hul families leer ook hoe belangrik herwinning vir die omgewing is en leer nuwe gewoontes aan.

Nadine Herbst, ma van Ruardt in graad 1 B, stem saam. “Ons as gesin het nou ywerige versamelaars van doppies geword. Dis nou ‘n leefwyse.”

Ruardt het oor die 13 000 doppies ingesamel. Hy het hoeka aan die begin van die insameling sy klasmaats uitgedaag om te kyk wie kan die meeste insamel.

Sy ywer het vrugte afgewerp en hy het die meeste in sy klas ingesamel, met Reinhard Stokbroek tweede.

Graad 5A het die meeste doppies ingesamel die jaar. Foto: Gerda Bruinette

Mieke Janse van Rensburg het gesorg dat haar klas, graad 5 A, hierdie jaar weer met die skool se louere wegstap. Sy het nou al twee jaar in ‘n ry gewen en voor haar het haar sussies die insamelingswerk gedoen.

Een van die mense wat hard werk om te help om doppies bymekaar te maak is Dirk Smit, een van Mieke se ma, ds Marlize se gemeentelede. Die projek het hom so geïnspireer dat hy nou al ‘n hele netwerk in Suid-Afrika en Botswana het wat vir hom doppies insamel.

Yolinca Groenewald (gr. 1 C) sê haar oupa het met ‘n slim plan vorendag gekom. Hy het die sakgrawers in Vanderbijlpark, Secunda en Vaalpark gevra om vir hom die koeldrankdoppies bymekaar te maak en hy het hul 10c betaal vir elke skoon doppie wat hul vir hom gebring het.

‘n Uitstekende projek waarby baie baat vind en so doen Vaalpark Primêr ook hul deel vir omgewingsbewaring.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button