Local newsNews

‘Tragedie-boom’ langs afrit afgekap

"Ons het nie 'n probleem daarmee dat die boom nou af is nie. Ons sal later weer 'n gedenkteken hier oprig," sê wyle Nicky Pretorius se pa.

Soos gepubliseer in Vaalweekblad van 27 Oktober 2023

SASOLBURG. – Die boom langs die R57-afrit wat onlangs in afsonderlike motorongelukke die lewe van twee jongmense geëis het, is verlede week afgekap.
Nicky Pretorius (jr.) het op 29 Junie in die hospitaal gesterf nadat hy en sy broer Michael die vorige aand op pad na Sasolburg teen die boom gebots het. Me. Gilene Groenewald het die nag van 28 September op dieselfde plek gesterf toe haar bakkie die boom tref.
Vurige debatte is die afgelope weke deur Facebook-lesers oor die boom se toekoms gevoer. Baie was ten gunste daarvan dat die boom afgekap moes word omdat dit snags nie deur motoriste gesien kon word waar dit naby ‘n draai teenaan die pad gestaan het nie. Ander het gemeen die boom moes bly en dat motoriste moes leer om nie vinnig of onverskillig in die afrit te ry nie.

Verskeie individue, lede van politieke partye en plaaslike gemeenskapsorganisasie het die afgelope weke gedreig om die boom te gaan verwyder as die owerhede dit nie self doen nie. Groot geheimsinnigheid heers nog oor wie uiteindelik verlede week die boom afgekap het.
Vir mnr. Nicky Pretorius (sr.) en sy gesin het die boom en gedenkkruis wat hulle hier opgerig het, ‘n besondere betekenis gehad na “klein” Nicky se dood.

“Ons het egter nie ‘n probleem daarmee dat die boom nou af is nie. Ons weet nie wie dit afgekap het nie. Ek het net verlede week gehoor die boom lê. Ons sal mettertyd, nadat die takke weggeneem en alles skoongemaak is, weer ‘n gedenkteken vir Nicky gaan oprig,” sê mnr. Pretorius.

Intussen maak sy seun Michael fisies goeie vordering na die ongeluk, hoewel hy en sy gesin emosioneel nog baie swaar kry oor “klein” Nicky se afsterwe. “Michael is redelik positief oor sy been na die amputasie. Hy loop al goed op krukke, klim trappe, was skottelgoed en maak sy eie bed op. Ons gaan volgende week die mense sien wat sy prostese gaan maak. As die geamputeerde deel van sy been al genoeg gekrimp het, kan hulle solank begin werk aan sy tydelike kunsbeen. Hy behoort voor Desember sy tydelike been te hê, mits die geamputeerde deel genoeg gekrimp het, anders sal hy te veel moet teruggaan vir verstellings soos wat dit verder krimp,” sê mnr. Pretorius.

* Verskeie veldtogte is steeds aan die gang om geld vir Michael se kunsbeen in te samel. Almal wat die projekte wil ondersteun, kan mnr. Pretorius se Facebook-profiel by https://www.facebook.com/tooone besoek vir verdere inligting. Mense wat graag geldelike bydraes wil maak, kan ‘n inbetaling doen aan NS Pretorius, Capitec, rekeningnommer: 1960649688.

Die lugfoto toon hoe naby die boom aan die pad gestaan het.
Die wrak van Gilene Groenewald se bakkie by die boom waar sy die nag van 28 September gesterf het.
Wyle Nicky Pretorius se gedenkkruis by die boom voordat dit afgekap is.
Michael Pretorius en sy pa, mnr. Nicky Pretorius senior, by die boom waar “klein” Nicky op 28 Junie kritiek beseer is. Nicky het die volgende oggend aan sy beserings beswyk.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Check Also
Close
Back to top button