Valie is nasionale monoloog-kampioen
Jurgens Swartz ryg nou al drie jaar in 'n ry pryse in met sy monoloë
SASOLBURG. – Jurgens Swartz se monoloë is legendaries. Die jongman is tans in graad 5 in Vaalpark Primêr. Hy skop nou al stof vir drie jaar in ander monoloogakteurs se oë.
Hierdie jaar het hy ingeskryf by die Op die Planke Toneelfees met sy stuk, Fiks en vieslik. Hy het deur die uitdunrondtes gegly en uiteindelik die eerste plek in sy afdeling (graad 4-7) behaal. Hiervoor het hy ‘n sertifikaat en medalje ontvang.
Die finaal is 14 Oktober by die Hoërskool Brandwag in Benoni gehou.Waar hy in die verlede net op sy eie talente en harde werk staatgemaak het, het hy hierdie jaar die geleentheid gehad om praktiese wenke by Izak Davel te kry.
Jurgens verkies tyd op die verhoog in plaas van die sportveld. Hy het darem onlangs sy hand aan gewigstoot by die laerskool se Bondelsportdag gewaag en het homself verras deur eerste te kom.
Met die laaste kwartaal op spoed is hierdie jaar se monoloë en redenaars nou eers verby, maar hy het reeds planne vir volgende jaar se kompetisies.
Tot dan sien hy uit na ‘n familievakansie in die Kaap waar “ek olifant poefies wil versamel.”
