Emmies se hoof, ‘n man met hart
Maak nader kennis met Laerskool Emfulenipark se hoof, Frans van Kradenburg.
VANDERBIJLPARK. – Frans van Kradenburg wou eintlik ‘n speurder geword het, soos wat sy oupa was. Tot vandag onthou hy die geur van vloerpolitoer in die polisiestasie en die geluid wat die speurders se hakke op die houtvloer gemaak het.
Dit was hom nie beskore nie. “My voorvaders was almal onderwysers, ‘n mens kan nie stry teen dit wat in jou bloed loop nie,” beduie hy.
Die man is inderdaad ‘n gebore onderwyser. Sedert 2014 is hy aan die stuur van sake by Laerskool Emfulenipark.

‘n Hoof wat daar is vir die kinders. Streng, maar ook altyd gereed om deel van die pret te wees. So was hy al ‘n slag Jack Sparrow by ‘n gr. R-gradeplegtigheid, kompleet met toutjieshare en seerowershoed.
Hy het destyds onderwys aan die voormalige Bloemfontein Onderwyskollege geswot. Hy het daarna by verskeie skole alles van wiskunde en aardrykskunde tot Afrikaans en Engels aangebied.
Vandag is hy steeds goed in tale, maar spot dat hy nou Mengels by die skool praat. “Emmies is ‘n dubbelmediumskool, so ek is gewoond daaraan om ‘n mengelmoes van Afrikaans, Engels en Sotho te praat.”
Op die oog af lyk hy rustig, maar die vonkel in sy oë verraai ‘n skerp sin vir humor. Natuurlik hou Emmies hom besig, maar soos hy sê, “ek slaap min,” want die man maak tyd vir al sy vele belangstellings ook.
Dit sluit alles in – van Bou Lego, voëlkyk en rolbal tot boogskiet. Dan is hy ook by die amateur radioklub betrokke. Wegbreek sluit toere op sy motorfiets in.
“My ma het op Facebook gesien ek het ‘n motorfiets gekry,” lag hy lekker. Sy gunsteling vakansieplek is Hermanus en kamp bly altyd die nommer een ding om te doen.

Frans is getroud met Jeanine en die egpaar het twee seuns. Oor sy vrou praat hy graag.
“Ek en sy praat dieselfde taal. Jy weet sy het al brons in Roemenië verower met boogskiet en is ‘n skeidsregter,” vertel hy trots.
Teen sy kantoormure pryk foto’s van hom saam met leerlinge. Elkeen vertel ‘n storie en elkeen se storie kan hy nog onthou.
Dis duidelik hierdie skoolhoof se hart klop warm vir elke Emmie en vir die skool.
